top of page
  • Zia van den Berg

Wat beplan die man agter die span?

Mnr JJ Pienaar, nuwe afrigter by die eerste rugbyspan, rig al sedert 2011 rugby af en met 11 jaar se ondervinding in sy sak, is hy ʼn aanwins vir die eerste span.

Mnr JJ

Hy het self rugby op skool en universiteit gespeel en was lank betrokke by die Leeus se strukture as rugbyspeler. Vandag is mnr JJ een van 3 afrigters by Helpmekaar Kollege se eerste rugbyspan.


As afrigter van die eerste rugbyspan kry mnr JJ baie advies, gevraagd en ongevraagd, maar ʼn ervare hand soos mnr JJ weet ook hoe om advies te hanteer. Hy luister graag en dink oor al die voorstelle, maar implementeer nie sommer nie, behalwe as hy saam stem en weet dit sal werk. Sy kennis as lewenswetenskappe-onderwyser en sy persoonlike ondervinding, dra ook by tot sy sukses as afrigter. Tog glo hy dat beplanning die belangrikste faktor in rugby-afrigting is.


Ma’a Nonu en Sam Tuitupou sowel as Schalk Burger is van mnr JJ se grootse rugbyhelde. “Daar is ʼn hele paar, maar as ek die grootste een moet uitwys, sal dit Christian Cullen wees,” sê mnr JJ.


Wanneer dit by rugby as toeskouer kom, kyk hy graag rugby op TV sonder klank en meen hy: ” ʼn Mens sien meer van die spel as jy nie na die kommentators luister nie.” As daar nie rugby op TV is nie, kyk hy ook tennis en Formule 1-wedrenne.


Die uiteindelike groot vraag is natuurlik watter rugbyspan mnr JJ ondersteun?


Hy antwoord slim deur te sê dat hy geen spesifieke span ondersteun nie, want elke span is te uniek op sy eie manier. Hy hou van die Leeus as gevolg van hulle mooi aanvallende spel terwyl die Bulle harde kontak-rugby speel. Die Stormers was volgens hom die beste afgerond, maar tans nie meer nie.


Heyneke Meyer staan vir die nuwe breier uit as ʼn uitstekende rugby-afrigter, want hy was ʼn spesialis op ʼn unieke wyse en het afrigting op ander maniere benader. Hy het Heyneke Meyer se boek gelees en baie van hom geleer. Behalwe vir rugby ry mnr JJ graag fiets en speel bietjie gholf. Hy word ook gesien langs die atletiekbaan omdat hy ook daar die Helpies afrig. Mnr JJ sê dat hy (indien hy ‘n ander sport móés afrig) graag boks sou wou afrig, omdat dit ‘n baie taktiese sport is.


Ten laastens antwoord mnr JJ op ʼn paar blitsvrae dat hy ʼn braai by die huis verkies bo restaurantetes en tussen flieks en reekse kies hy beide. Sy antwoord op die keuse tussen biltong of sjokolade kom uiteindelik uit as biltong en hy verkies Kruger Wildtuin vakansies bo see vakansies. Die keuse tussen bier of wyn kom die wyse antwoord van “een bier en twee glase wyn.”







Related Posts

See All
bottom of page