top of page

Passie, rugby en hoop: Helpmekaar vs. Monument

  • Charlie Baard
  • May 23
  • 2 min read

Ek vind dit moeilik om die rubriek rugbygeoriënteerd te hou, sonder om die olifant in die wit-en-blou Virseker-baadjie te adresseer. Passie Erasmus verskyn die naweek op die Bult; hy en die Helpies het eerlikwaar die GEES gebring. Die atmosfeer op die paviljoen was werklik elektries. ’n Skool wat saamkom, wat saam sit in afwagting en wat saam hoop. Die Eerstes hardloop deur die rugbyveld-lengte-tonnel en honderde Helpies storm terug paviljoen toe om ’n sitplek te verseker.


Die wedstryd skop af. Die spel is byna so elektries soos die toeskouers se gees. Monument open met ’n vinnige drie, maar ons antwoord met ’n drie en verdoel dit. Die eerste helfte kom tot ’n einde en die Eerstes bevind hulself in ’n ongemaklike posisie: ’n telling van 9-29 ten gunste van Monument. Monnas het ’n paar ongelukkige drieë aangeteken weens ’n paar 50-22’s wat nie so ver moes trek nie en ’n ongelukkige skop in hul hande in. Die spanning loop nou hoog...


Die tweede helfte begin. Mnr. Hannriël en Mnr. Tjaart se halftydtoespraak bly ’n misterie, maar dit was duidelik magies. Binne die eerste minuut druk ons. Die manne se koppe is duidelik in die spel. In die 58ste minuut van die wedstryd druk Liam Hessel ’n pragtige drie. Die skare spring en juig – net om weer teleurgesteld te gaan sit. Die skeidsregter en lynregter meen Xander Jackson se aangee is ʼn vorentoe-aangee (’n besluit waarmee ek nie saamstem nie, maar in elk geval). Ek is van mening dat dié drie die momentum sou gee wat na oorwinning sou lei.


Die wedstryd sluit af met ’n telling van 26-34 en ’n verlies.


Maar dit is nie die treurstorie van Menlo nie. Die tweede helfte was inspirerend, elektries en passievol. Dit het nie die toeskouers en aanhangers met gebroke harte gelos nie, maar met harte vol hoop. Die eerste span lê 5de in die liga; hulle moet net een plek opskuif en dan is die Virsekerbeker in sig. Ek glo, ons glo, Helpmekaar glo.

 





Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page