Vaughan McClea: Musiek as ’n Lewenswyse en Roeping

Friedrich Nietzsche het gesê: “Without music, life would be a mistake.” Oud-Helpie, Vaughan McClea, leef hierdie lewenswyse ten volle uit. As ʼn student aan die Hochschule fur kunste (Universiteit van die kunste) in Bremen, is dit nie moeilik om die afleiding te maak dat hierdie man redelik toegewyd aan sy kuns nie is. Hy skroom ook nie om iemand wat belangstel in 'n musiekloopbaan aan te moedig om dit te doen nie. “Doen dit net!” sê hy sonder om te twyfel. Hy glo vas elkeen sy eie geleenhede moet skep. “Dit is alles regtig moontlik as jy glo dat jy dit kan doen,” gesels hy voort oor sy roeping.
Vaughan het besliste idees oor die rol van klassieke musiek samelewing . Hy is oortuig daarvan dat dit slegs irrelevant word wanneer ons in die samelewing musiek so ʼn nismark wil maak. Hy dink musiek is vir almal en dat dit nie net uitgestal moet word op ʼn verhoog nie, met die gehoor wat doer aan die anderkant tjoepstil sit en nie mag hande klap nie. Konserte kan in operahuise plaasvind, maar dit kan ook sommer in die agtergrond speel in ʼn restaurant, of op ʼn lukrake straathoek uitgevoer word. Musiek is nie altyd ʼn armlengte weg nie, dit kan van naby af beleef word.
"Een van die mooiste oomblikke wat ek al beleef het was toe ek met ʼn paar vriende in die musiekklaskamer gesit het; dit was hierdie rugbyvriende van my en mense wat eintlik nooit klassieke musiek luister nie. Ek het net vir hulle een melodie gespeel wat ek oefen. En die een ou het daar in trane begin sê hoe pragtig dit is, hy het nie geweet daar is sulke musiek nie! Hy was so geraak daardeur. Ek het nie uit my pad gegaan om hom te laat huil nie, ek wou hom net iets wys wat vir my mooi is en dis toevallig oor ‘n honderd jaar terug geskryf en hy was in trane, hierdie groot, sterk, eerstespanslot.”
'n Puris is hy ook nie en geniet veral Afrikaans musiek - veral Francois van Coke en Spoegwolf.




Comments