Rykie reik verder: 'n lewe van durf en daad

Marli du Preez gesels met oud-Helpie, dokter Rykie Liebenberg, oor die krag van vrouwees: ’n Goue draad wat deur haar lewe, van Helpmekaar tot in die mediese wêreld, loop.
As hoofmeisie van Helpmekaar Hoër Meisieskool in 1971, was Rykie ’n veelsydige en gedrewe leerder. Sy het aan hokkie, atletiek en debat deelgeneem en was ook die redaktrise van die destydse Helpie-Flitse. Haar liefde vir taal het duidelik in haar akademie gewys. In matriek het sy vier tale geneem: Afrikaans, Engels, Duits en Frans. Ten spyte van haar duidelike aanleg vir taalkunde, het Rykie besluit om medies aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer – ’n keuse wat nie sonder teenstand gekom het nie.
Sy onthou hoe haar Afrikaans-onderwyseres, me. Sommers, uitgeroep het: “Jy kan nie! Jy gaan nooit weer ’n gedig lees of ’n opstel skryf nie!” Maar dit was nie die enigste stem van twyfel nie. In haar matriekjaar het ’n skoolinspekteur haar gevra waarom sy ’n dokter wou word, eerder as ’n onderwyseres of verpleegster. Haar antwoord was ferm, en miskien ’n bietjie parmantig: “Ek wil onafhanklik wees. Ek wil nie in die posisie wees waar iemand anders oor my salaris besluit nie.” Selfs as jong meisie het sy reeds die beperkinge raakgesien wat dikwels op vroue geplaas is en sy het doelbewus besluit om dit nie te aanvaar nie.
Op slegs 17 het Rykie as ’n grootoog, ietwat senuweeagtige student die mediese fakulteit binnegestap. Teen 23 het sy as ’n gekwalifiseerde dokter uitgestap; ’n merkwaardige prestasie. Tog was die pad allesbehalwe maklik. Behalwe die lang ure, hoë verwagtinge en intense werkslading, moes sy haar plek vind in ’n oorwegend manlike omgewing waar sy nie altyd ernstig opgeneem is nie. Sy vertel van opmerkings wat gereeld gemaak is: “Julle is maar net hier vir verryking,” of “vrouens hoort nie hier nie.” Ander het selfs gesê dit is “die beste tyd om kinders te kry” en dat hulle hul tyd mors voor die boeke.
“Jy moes partykeer vasbyt en sê: Dit is wat ek wil doen,” vertel sy. Hierdie vasberadenheid, om aan te hou, selfs wanneer ander jou plek bevraagteken, word ’n duidelike tema in haar verhaal. Dit is juis hier waar haar vrouwees nie ’n beperking geword het nie, maar ’n bron van krag.
Ná haar studies het Rykie by verskeie hospitale regoor die land gewerk. Nadat haar man in 1991 oorlede is, het sy na Johannesburg toe teruggekeer sodat haar ma kon help met die versorging van haar drie seuns: ’n 11-jarige, ’n 8-jarige en ’n baba. In hierdie tyd het sy ook aan die Universiteit van die Witwatersrand in psigiatrie gespesialiseer. “Dit was maar ’n lang reis,” sê sy.
Vandag besit sy haar eie psigiatriese praktyk in Swakopmund, waar sy haar werk baie geniet. In haar beroep beklemtoon sy die belangrikheid van beide intellektuele en emosionele intelligensie. “Jy moet empatie hê terwyl jy met die pasiënt praat, maar jy kan dit nie soos jou eie baadjie aantrek nie. Jy moet hoor wat hulle vir jou sê en wat hulle nie vir jou sê nie.” Hierdie balans tussen begrip en professionaliteit, is iets wat sy glo baie dokters nog moet leer. “Soos wat jy die lewe self ervaar, leer mens meer empatie,” voeg sy by.
Buiten haar werk vind sy balans deur te oefen, te lees en tyd saam met vriende deur te bring. Tog bly haar verbondenheid aan Helpmekaar sterk. Sy het steeds gereelde kontak met meer as 20 matrieks van 1971, op ’n aktiewe WhatsApp-groep. Sy het ook onlangs weer met haar destydse kêrel en matriekafskeidmaat, Neels de Villiers, kontak gemaak en hulle is in 2023 getroud. “Wat vir my opvallend is van vandag, is dat daar steeds daardie samehorigheidsgevoel is,” sê sy.
Aan vandag se Helpies het sy ’n eenvoudige, maar belangrike boodskap: “Wees meer geduldig en verdraagsaam teenoor ander mense. Gee almal ’n kans.” En veral vir jong meisies voeg sy by: “Ek hoop vandag se meisies het die selfvertroue om te weet jy kan enigiets doen wat jy wil doen.”
Van hoofmeisie in 1971 tot ’n gerespekteerde psigiater vandag, is Rykie Liebenberg se verhaal een van deursettingsvermoë, onafhanklikheid en die stille krag van vrouwees. “Groete vir die Helpies,” sluit sy af. “Ek wens die skool alles van die beste toe.”






Comments