top of page

Oud-Helpie Bridgette Mabhude: ‘n Leerkrag wat lewens vorm

Marieke Wiggett
Jul 15
3 min read
Bridgette Mabhude klop warm vir die onderwys. Foto: verskaf.
Bridgette Mabhude klop warm vir die onderwys. Foto: verskaf.



Van Helpmekaar se gange na haar eie klaskamer: Oud-leerder Bridgette Mabhude leef haar passie as onderwyseres uit. Wat as ’n klein saadjie van potensiaal begin het, het vinnig gegroei tot ’n blommetuin van wysheid, omgee en ’n verrassende hoeveelheid geduld. Vandag staan sy nie net voor ’n klas nie: Sy vorm drome, bou selfvertroue en verander lewens op maniere wat nog lank ná die skoolklok bly eggo.



Haar lewenspad het egter ’n paar onverwagse draaie gemaak. Haar aanvanklike plan was om bedryfsielkunde te studeer, maar het totaal verander na afloop van ’n onverwagse besoek aan mnr. Klaus König in haar matriekjaar. “Hy het my ingeroep na sy kantoor toe gedurende my rekordeksamen en vir my ’n aansoekvorm vir ’n assistentonderwyserpos gegee,” vertel sy. Ná aanvanklike onsekerheid, het sy tog vir ’n onderhoud gegaan en dadelik die pos gekry. “Meneer Klaus het my beter geken as wat ek myself geken het,” sê sy. Vanuit die staanspoor was haar geesdrif duidelik. Al was daar skielik baie kinders en selfs meer verwagtinge, kon sy in enige klas floreer. Haar grootste uitdaging was egter om die balans tussen gelyktydig werk en studeer te handhaaf. Tog was die stryd vir haar die moeite werd: “Ek het my werk vreeslik geniet. Meer as enigiets, was dit passie.” Dit was ook vir haar ’n belangrike leerstadium tydens die soeke na haar eie identiteit as onderwyseres. “Elke onderwyser is anders – ek het bietjie by elkeen geleer en uiteindelik my eie rigting gevolg.”


Onderwysers het haar op verskeie maniere inspireer – me. Linda van Niekerk het haar onder andere gehelp om uit haar dop te kruip en selfvertroue te kweek. “Sy het die potensiaal in my raakgesien, my geïnspireer om beter te wees en gebou tot wie ek vandag is. As enigiemand ‘n Bob the Builder is, is dit sy.”

Bridgette meen ook dat haar voormalige onderwysers haar nie sal herken vir die persoon wat sy geword het nie. “My onderwysers het ‘n saadjie in my geplant. Hulle het my potensiaal gesien nog lank voordat ek besef het dit sal blom,” vertel sy.


Vir haar is die belangrikste deel van onderwys om ‘n verskil in haar leerders se lewens te maak, al is dit net met ‘n drukkie en ’n bietjie aanmoediging. Dit is van kardinale belang om aan elke leerder in haar klas die aandag te gee wat hulle verdien, wat soms uitdagend is weens die hewige hoeveelheid werk en die min ure in ‘n dag. “Tussendeur die werk, is ek ‘n verpleegster, polisieman, sielkundige, berader en beoordelaar,” noem sy. Al is dit moeilik om van kant tot kant te beman, is die sukses wat haar studente bereik, wat dit alles die moeite werd maak.


Haar gunstelingherinneringe van haar dae op Die Bruin Reus op die Bult, is die Helpie-gees wat by sportbyeenkomste uitgebeeld was. Die eienskappe van ‘n Helpie is presies wat sy aan haar leerders wil oordra. Sy meen dat hierdie beginsels uit en uit die inspirasie van Helpmekaar is. Helpies reën nie nat nie, of hoe?

Liefde is dit wat haar beroep so spesiaal maak. Meer as enigiets probeer sy om ‘n “liefdevolle mamma” vir haar leerders te wees. “Ek wil hê hulle moet weet dat ek omgee en wil weet waardeur hulle gaan sodat ek kan help,” sê sy. Sy vertel ook van die gevolg kindertjies wat elke oggend voor skool om haar saamdrom vir ‘n drukkie of met ‘n brokkie nuus. “Die manier waarop hulle nie kan wag om my te sien nie, is vir my die lekkerste lekker. Dit beteken ek doen tog my werk en hulle gee vir my ook om.”


Die eerlike waarheid is dat onderwys nie altyd maanskyn en rose is nie. “Soms sweet jy bloed, army crawl en vlieg jy deur storms tot by die einde. As jy jouself nie daardeur kan sien nie, is onderwys nie vir jou nie.” Sy beskryf die onderwysbedryf met een woord: Passie. Passie is wat haar soggens laat opstaan en laat volhou tot die einde.

Haar storie dien as ’n herinnering dat groot drome dikwels klein begin, selfs in die gange van ’n hoërskool. Van leerder tot leerkrag, bewys Bridgette Mabhude se reis dat passie en liefde die krag het om, nie net een lewe nie, maar talle lewens te verander.


Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page