top of page

Oud-Helpie Helet vertel van skoollewe in die vorige eeu

Redaksie
Jul 2
3 min read


Helet Malan was in die 1960’s in Helpmekaar. Dit was die dae toe die meisieskool en seunskool oorkant die pad was van mekaar en Helpies elke dag 'n myl (1,6 km) tot by die skool moes stap nadat hulle eers met die staatsbus tot in Hillbrow gery het. In daardie dae moes die meisies pette dra, elke Vrydagaand was volkspele by die seunskool en Latyn was nog een van die keusevakke.

 

Een van die dinge wat die meeste uitstaan vir Helet, is die dissipline. “In ons tyd was dit verpligtend om altyd ons pette te dra,” vertel sy. “Ek onthou nog hoe ek een keer my pet vergeet het op pad busstop toe en toe is ek uitgevang. As straf moes ek vir ’n hele uur detensie sit op ’n Vrydagmiddag,” vertel sy. Tog sê sy die onderwysers was nie onbillik streng  nie – leerders het nie sommer pakslae gekry nie en die straf was meestal net detensie.

 

Haar onderwysers het ook ’n groot indruk op haar gemaak. Een was haar geskiedenisonderwyseres, me. Botha, met die bynaam “Napoleon”.

 

“Sy het sommer die klas vermaak deur in die klas te begin sing en dans op bekende jongmensliedjies. Ons mag ook nie kettinkies om ons nekke gedra het nie. Dan het sy, wanneer sy les gegee het, sommer in ons nek gevoel… dit was altyd spottend; sy was nooit kwaad nie. Jare later het ek haar weer raakgeloop by die winkels, wat nogal spesiaal was.”

 

Dan was daar juffrou Somers, wat baie ernstig was oor Afrikaans en “Oubok”, haar wiskunde-onderwyseres, wat altyd haar klein, kwaai Schipperke ('n soort hond, byna soos 'n kleiner, swart wolfhond) saamgebring het. Die hond het graag op die leerders se harde bruin tasse gespring. Die skoolhoof in daardie tyd was juffrou Theron. “Ek kan eerlik sê ek het haar nooit kwaad gesien nie,” vertel Helet.

 

Kultuur en sport was net so belangrik. Volkspele was ’n groot deel van die skool se kultuur, met kompetisies en selfs Vrydagaand-byeenkomste by die seunskool, waar onderwysers ook deelgeneem het.

 

Die interhoër was destyds ’n jaarlikse hoogtepunt waar hulle teen vyf ander skole meegeding het en Helet sê Helpmekaar het dit gewoonlik gewen. Seuns en meisies het saam aan die interhoër deelgeneem en tydens pouse het die seuns oorkant die pad na die meisieskool toe gegaan om saam liedjies te oefen vir geesvang.

 

Sportsoorte soos hokkie, tennis, swem, korfbal en gimnastiek in die winter was gewild en leerders moes soms met die trein reis vir wedstryde. Redenaars was belangrik en die redenaarsbeker was baie gesog. Helet onthou ook met trots haar betrokkenheid by die koor.

 

Snaaks genoeg was ontgroening vir haar ’n hoogtepunt, veral die groentjiekonsert waar elke leerder iets snaaks moes doen. “Ek moes ’n vuurpyl lanseer,” lag sy. “Dit was baie opwindend.”

 

Matriekeindeksamens het destyds anders verloop as nou. Leerders moes almal elke dag skool toe gaan, al het hulle nie noodwendig geskryf nie. Al die matrieks het saam in die saal gesit en op dieselfde tyd huis toe gegaan. “Dit was vir my baie spesiaal hoe almal met trots tot die einde deurgedruk het en die dissipline gehad het om elke dag daar te wees,” sê Helet.

 

Ná matriek het sy onderwys studeer aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) en later haar studies deur Unisa voortgesit. Sy het ’n indrukwekkende loopbaan van 53 jaar in die onderwys gehad, waartydens sy by laerskole en privaatskole klasgegee het en die laaste vier jaar selfs haar agterkleinkinders tuis onderrig het. Aan die einde van 2025 het Helet uiteindelik afgetree. Sy en haar man woon tans in Pretoria.

 

“My tyd by Helpmekaar het my geleer het om te studeer en te volhard tot die einde toe sonder om ooit op te gee. Die waardes van die skool – respek, deursettingsvermoë en omgee vir ander – bly vandag nog vir my besonders.” Sy sê die onderwysers wat werklik omgee, is baie waardevol. “Dit is hulle wat leerders aanmoedig om harder te werk. Hulle maak ’n groot verskil en inspireer leerders om hul beste te gee,” sê Helet.

 

Helet is vandag nog dankbaar vir die rol wat dié besonderse skool in haar lewe gespeel het. “Helpmekaar, in die hartjie van Johannesburg, bly steeds volgens my een van die beste skole in die land.”

 

Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page