top of page
  • Jessica Goosen en Elizabeth Krüger

ʼn Trotse netbal-geskiedenis


Met Helpmekaar Kollege wat pas sy honderdste verjaarsdag gevier het, vier netbal ook ʼn baie belangrike verjaarsdag. Die gewilde sport word vanjaar eenhonderd en dertig jaar oud! In 1925 stel Phyllis Cardin die spel bekend aan toekomstige onderwysers aan die Johannesburg College of Education wat dit versprei en ontwikkel by laerskole en hoërskole in die Transvaal-provinsie.


Netbal is dus al deel van Helpmekaar vir 96 jaar! Met trots kan daar gesê word dat Helpmekaar van die beste netbalspanne in Suid-Afrika kweek deur deursettings-vermoë, harde werk en lang ure op die baan (ter voorbereiding vir ʼn wedstryd of ʼn toernooi) deur te bring. Netbal is ʼn spanpoging, wat van passievolle afrigters tot flukse spelers strek. Helpie-netbal het al baie uitdagings beleef, maar met elke uitdaging versterk die spanne en die ketting. Helpmekaar se busse ry 15:00 en daarom is daar beperkte oefentyd, tog word kwaliteit oefening verseker. “Helpmekaar Kollege is ver van alles af en die afstand is ʼn probleem,” volgens me Louise Hattingh (netbal-afrigter) “Dit verg dus bykomende deursettingsvermoë van die kinders se kant af,” sê me Hattingh.


In 2013 het Helpmekaar se 0.16-netbalspan SA’s gewen. Nicole Amiras was deel van die span en het verder deel geneem aan die Region V-spele en het ook deelgeneem aan die Wêreldbeker. “SA’s was elke jaar in die skoolvakansie so dit was rêrig ʼn uitdaging om voor die SA’s elke dag bymekaar te kom om te oefen,” sê Amiras. In 2018 is die 0.16 A-netbalspan saam met die afrigter van die span, me Hattingh, uitgenooi na die Wêreldkampioenskap wat in Singapoer gehou is. Me Hattingh meen dat netbal meer is as ʼn sport, maar eerder dat dit gaan oor ‘die reëls van die lewe’, dat dit gaan oor ‘karakterbou en saadjie plant by die kinders’. Nicolette Bezuidenhout, wat in 2017 en 2019 deelgeneem het aan SA’s, stem saam: “Netbal is meer as net ʼn sport, dit het my verskeie lewenslesse geleer waarvoor ek dankbaar is."


Die is egter nie die enigste spanne wat goeie resultate bereik en Helpmekaar se naam hoog hou nie, die Helpie-netbalspanne blink uit in toernooie soos die Gauteng Netball tournament, die Klofies-fees wat aangebied word deur Hoërskool Waterkloof en die Twizza skole-toernooi. By die Twizza-toernooi in 2019 dring drie spanne deur na die Gauteng-kampioenskappe. Die 0.14-span van Helpmekaar behaal ʼn vyfde plek in Gauteng, die 0.15-span ʼn tweede plek, en die 0.16-span behaal ʼn eerste plek


Die resultate wat die spelers bereik, kom nie maklik nie. 2021 se 0.16 A-span, afgerig deur me Linda Peacock, vertel van hulle strawwe oefenprogram. Daniela Popovic, lid van die span, sê: ‘’Ons 0.16 A-span oefen gereeld en ten minste twee ure elke dag waar ons seker maak ons lewer wat van ons verwag word en te verseker dat ons, ons netbaldoelwitte bereik.’’


Alhoewel netbal ʼn baie gewilde sport is en deur duisende mense regoor die wêreld gespeel word, is netbal nog steeds nie goedgekeur om te kwalifiseer as ʼn Olimpiese sport nie. Hoofafrigter van Engeland se netbalspan, Jess Thirlby, meen dat netbal twintig miljoen pond en jare weg is om te kwalifiseer as ʼn Olimpiese sport. Sy vermoed dat hulle eers aan die 2032 Olimpiese spele sal kan deelneem. Alhoewel netbal nog nie goedgekeur is om aan die Olimpiese spele deel te neem nie, bly dit tog elke speler se droom om Groen en Goud te dra en ʼn goue medalje huis toe te bring. Daar is hoop dat een van Helpmekaar se vele talentvolle spelers eendag hierdie geleentheid gegun sal word.


“Speel soos diere” is wat me Hattingh altyd vir haar netbalspelers voor ʼn wedstryd sê, en na ʼn lang inperking, waar die netbalspelers honger was vir netbal speel, kan me Hattingh dit weer vir die spelers sê. Om vyf spanne SA’s toe te stuur en te wen, is dié juffrou se groot doelwit voor sy haar fluitjie kan ophang.




Related Posts

See All
bottom of page