Jané Mulder se reis van Helpmekaar na Springbok-vlak
- Emily Olivier
- 6 hours ago
- 4 min read

Jané Mulder, ’n trotse oud-leerder van Helpmekaar Kollege, het naam gemaak as een van Suid-Afrika se opkomende rugbysterre. Van netbal en atletiek op die Helpie-gronde tot ’n plek in die Springbokke se o. 20-vrouespan en kaptein van die Universiteit van Pretoria (Tuks) se kampioenspan in sewesrugby van die University Sports Association (USSA). Jané se storie is ’n inspirasie vir huidige Helpie-leerders. Ons het met haar gesels oor haar Helpie-dae, die laat begin in rugby, gesinsinvloed en haar groot drome vir die toekoms.
Watter aspekte van Helpie se kultuur, dissipline of sportomgewing (soos netbal en atletiek) het die grondslag gelê vir jou rugbysukses, selfs al het jy die sport eers later met erns aangepak?
Helpmekaar Kollege het my baie insig gegee en lewenslesse geleer. Veral ten opsigte van sport het die omgewing wat die skool gebied het my geleer hoe om hard te werk vir wat ek wil hê en om goeie sportgees te toon. Die deelname aan netbal by Helpmekaar het my beslis van spanwerk en deursettingsvermoë geleer. Daardeur het ek ’n sterk karakter ontwikkel ‒ iets wat ek vandag in my rugbyloopbaan gebruik. Die beoefening van sport by Helpmekaar het my trots laat voel om deel te wees van ’n span, ’n gevoel wat onbeskryflik is. Die skool met sy hoë sportverwagtinge en kompetisies het ’n begeerte om te wen aangemoedig en my geleer om myself orals professioneel te gedra, nie net op die veld nie.
Jy het in graad 11 besluit om na Wits se sportgronde te skuif vir beter rugbygeleenthede en eers in graad 12 rugby begin speel. Hoe het jy daardie oorgang en besluit ervaar, en watter belangrike lesse oor aanpassing en deursettingsvermoë het dit jou geleer?
Ek het altyd ’n passie vir rugby gehad. Alhoewel dit aan die begin vreemd en onbekend was, het ek vinnig aangepas en gemaklik gevoel, omdat ek dit lankal wou aanpak en reg was om te leer. Die les wat ek oor aanpassing geleer het, is dat mens nooit sal groei as jy in jou gemaksone leef nie.
Jou insluiting in die Springbokke se o. 20-vrouespan (as vleuel vir die Lions en die nasionale span) was ’n groot mylpaal. Hoe het daardie oproep gevoel en watter spesifieke oomblikke of bydraes het vir jou die meeste uitgestaan tydens daardie ervaring?
Dit was beslis ’n skok omdat ek op daardie stadium nie baie ervaring gehad het nie, maar ek was vreeslik opgewonde en trots om die groen-en-goud te dra. Dit was ’n groot voorreg vir my en ’n oomblik wat ek altyd sal koester. Spesifieke oomblikke wat vir my uitgestaan het, is definitief die dissipline, passie en intensiteit wat ’n nasionale span vereis, en om te besef dat om vrugte te kan pluk, harde oefening en baie opofferings vereis.
Jy balanseer tans hoëprestasierugby by Tuks ‒ met ’n sterk fokus op sewesrugby waar jy kaptein was van die USSA-kampioenspan ‒ met jou studie vir ’n BA-graad in sielkunde. Hoe bestuur jy die kombinasie van studie en sport en watter strategieë vind jy die doeltreffendste vir jong atlete?
Ek dink as jy genoeg oomgee vir die dinge wat jy doen, is daar altyd tyd daarvoor. My advies is om goed te beplan en daardie beplanning te volg, al het jy nie altyd lus nie. Dit kom neer op selfdissipline, om respek te hê vir jou spanmaats, om by elke oefening te wees en natuurlik om te geniet wat jy doen.
Wie was die sleutelfigure in jou ontwikkeling (afrigters, senior spelers, gesin of mentors – insluitend jou pa Japie se invloed en die rugbygesprekke by die huis) wat die grootste impak op jou spel en professionele ingesteldheid gehad het, en hoekom?
Baie mense het bygedra tot die ontwikkeling van en my ingesteldheid tot my spel. My gesin, afrigters en spanmaats het almal ’n rol daarin gespeel om my aan te moedig en te motiveer. My pa ondersteun my en gee advies na elke wedstryd wat ek dan probeer implementeer vir die toekoms (al wil ek nie altyd na sy insette luister nie). My pa herinner my ook om altyd nederig te bly.
Met die oog op die toekoms, wat is jou primêre doelwitte op die kort- en langtermyn – of dit nou ’n plek in die volle Springbok-vrouesewes- of die 15’s-span is, verdere sukses by Tuks of internasionale blootstelling – en hoe beplan jy om daardie ambisies te bereik?
My korttermyndoelwitte vir die toekoms is om elke dag te vat soos hy kom en my hart uit te jol by elke oefening en wedstryd. Soos die slim mense sê, “The harder you work, the luckier you get.” Ook wil ek my tyd by Tuks-rugby geniet, want hulle is nou my tweede familie en maak my gelukkig. My langtermyndoelwitte is om vir die nasionale vrouesewesspan te speel en om daar te presteer deur harde werk en deur naby aan die Here te bly.




Comments