Die kuns van krag
- Leonie du Preez

- Apr 26
- 2 min read

Kennis word op verskillende maniere ingesamel. Vir Liam Page (gr. 9) is judo nie net ’n sport nie, maar sy manier om nuwe kennis te verwerf. Hierdie vegkuns is ’n opvoedkundige metode wat ’n kombinasie van gooie, worsteling en gewrigslotte bevat om jou opponent te onderwerp.
Liam se liefde vir judo is deur sy familie gevorm. Sy pa en nefie vind albei genot in vegkuns. Toe ses-jarige Liam die geleentheid gekry het om judo te beoefen, het hy dit aangegryp en nooit weer teruggekyk nie. Liam berei vir sy kompetisies voor deur aandag te gee aan tegnieke en om aan kleiner kompetisies deel te neem. Nie net voel hy dan voorbereid nie, maar volgens hom is kompetisies een van die lekkerste aspekte van judo.
Natuurlik is dit wel nie net maanskyn en rose nie. Een van die moeilikste tegnieke vir Liam is Randori. Hierdie oefening behels ’n vrye styl van oefeninge wat jy teen jou opponent moet toepas. Wanneer Liam motivering kort sê hy: “My ouers en sensei is altyd daar om my te ondersteun en aan te moedig. Ek doen wat ek kan en die volgende oefening werk ek weer harder.”
Liam pluk vir seker die vrugte van sy harde werk. Tydens die SA judo-toernooi in 2025 het hy ’n eerste plek in die KATA-afdeling verwerf, ’n tweede plek in die individuele afdeling en ’n derde plek in spanverband. Liam het die volgende te danke aan judo geleer: “Moet nooit ophou om hard te werk nie. Elke jaar bring nuwe uitdagings en geleenthede.”
Judo is nie net ’n sport nie. Vir Liam, is dit ’n leefstyl en ’n toekoms. Hy wil sy swart belt verwerf en internasionaal deelneem. Hy droom ook daarvan of moontlik eendag ’n sensei te word.




Comments