top of page
  • Nina Germishuysen

ʼn Man van vele talente



Sonder oom Chris, soos Helpies se geliefde sjef by almal bekend staan, sal die Helpie-magic net nie dieselfde wees nie. Met hom aan boord, kan mens vergeet van die gewone ou skoolsnoepie-etes: vervelige geroosterde toebroodjies, opgewarmde pasteie en gister se warmbrakke. Koshuisinwoners word ook daagliks bederf met heerlike etes wat menige dagstudente net van kan droom. En dan is daar die talle funksies wat hy met sy eksotiese spyskaarte omtower in spoggeleenthede. Nina Germishuysen het gaan kennis maak met die man agter die kospotte.


Van jongs af was Chris van Niekerk ʼn fynproewer en gou het sy ma sy kulinêre raad in die kombuis begin volg. Sy eggenoot, me Linda van Niekerk, se ma was ook ʼn bobaaskok en toe oom Chris haar ontmoet, was die koeël deur die kerk: “Sy het ʼn resepteboek uitgegee en ek en sy was lief daarvoor om saam in die kombuis te werskaf.” En geen wonder nie. Die kosmaakgeen is in sy bloed. Beide sy kinders hou van kook en sy seun is ook werksaam in die kosbedryf.


Oom Chris is ʼn opgeleide onderwyser en was werksaam by Hoërskool Randburg, waartydens hy homself ook as ʼn Microsoft-stelselsingenieur gekwalifiseer het. Maar sy passie vir kos het aanhou knaag aan hom. “My destydse werkgewer, ATE, het my genader om vir die ministers en attachés kos te maak, omdat dit te duur was om buitespyseniers te kry. Almal het gereeld my kos geproe en geweet ek kan kook. My Franse baas, Jean-Marc, het my ook saam na sy plaas geneem om vir al sy oorsese gaste kos te maak.”



Nege jaar gelede tref ʼn stukkie geluk Helpmekaar Kollege toe oom Chris besluit om die pos as sjef te aanvaar. Min mense weet egter wat ʼn tipiese dag in sy lewe behels. Hy begin 5:30 met ontbyt vir ʼn honderd leerders en onderwysers en tussen tagtig en tweehonderd snoepie-etes. Dan begin middagete vir ʼn honderd honger mae en daarna aandete. Tussenin word aankope gedoen en spyskaarte vir die volgende week gefinaliseer. “Buiten die normale roetine, is daar nog funksies soos Swierig in Swart, rugby-ontbyt of onderwysersetes op Vrydae. Dan begin die skoonmaak en voorbereiding vir die volgende dag.”


Oom Chris se grootste genot is om interessante spyskaarte uit te werk vir funksies soos matriekafskeid en direksie-etes, aangesien hy sy kreatiwiteit ten volle hier kan uitleef. Soos met enige werk is daar ook frustrasies. Die feit dat die skoolgebou bo nie ingerig is om vir tweehonderd mense kos te bedien nie, bemoeilik soms sy taak.


Met ʼn eggenoot soos oom Chris aan haar sy, het vroulief Linda natuurlik haar brood aan albei kante gebotter. Sy laat liefs die kosmaak oor aan ʼn kenner. Indien hulle uiteet, is Saigon Suzy in Johannesburg en Café Orca in Melkbosstrand gunstelinge. Op my vraag wat vir hom baie spesiaal is, antwoord oom Chris: “Die grootste bederf is om kooklesse oorsee by te woon.” Wat sy eie gunstelinggeregte aanbetref, is Oom Chris is ʼn Suid-Afrikaner in murg en been: “Niks kom by kosmaak op ʼn oop vuur nie – soos ʼn lekker biefstuk met skyfies en slaai.”


Nog ʼn verrassing is oom Chris se liefde vir opera. “As ek nie gekook het nie, het ek gesing. Ek is die beste stort-operasanger wat ek al gehoor het,” sê hy met ʼn glimlag. En sy droom vir eendag? “Ek sien myself iewers in Amerika met my kostrok, waar mense van ver af kom om my peri-peri-hoender te kom proe”.

Related Posts

See All
bottom of page