Liewe Afrikaans #10
- Leah Vivier
- May 17
- 2 min read

Ek het jou vinnig leer ken. Dit was nie baie moeilik nie – jy’s ʼn bekende in die huis, ek kom jou oral teë; Jy is onvermydelik, onwrikbaar deel van my. Tog, soos Demosthenes, moes ek eers ʼn paar klippe kou voordat ek vlot kon praat.
Ek het ge-“rooi, ribbok, ram” totdat die erre van my tong afrol. Ek het met ‘g’s’ gegorrel en geraas totdat my verhemelte in antwoord rinkink. Ek het “kapokaartappels”, “biblioteek” en “spinnekop” tussen my wange rond geskommel totdat elke letter reg klink. Uiteindelik, het ek jou kronkels uitgekaart en jou klanke leer ken. Net toe ek myself goed kon uitspreek, het ‘skryf’ my uitgedaag, maar nooit afgekeer nie (as hierdie brief enige aanduiding is).
Sodoende, is ek Afrikaans ingeburger en volstaan ek by die suiwer en aktiewe verering daarvan deur jou ook só te benut. My mede-eg-Afrikaanssprekendes kan beaam wanneer ek sê dat jy – Afrikaans – ʼn sielstaal is: ʼn Uitsonderlike taal, met emosie, wat mense op ʼn dieper vlak verbind.
‘n Samesmelting van soveel kulture en klanke het jou maar net ‘n 100 jaar terug tot stand gebring en ín hierdie afgelope 100 jaar, het mense die voorreg gehad om hulself totaal en al uit te leef. As dit nie die gebruik van ʼn uitdrukking, idioom of spreekwoord is nie, kleur ʼn tussenwerpsel die sin in. As daar iewers in die woordeskat tekort skiet, sorg die HAT of werke van legendariese skrywers soos Boerneef en oom Neelsie, vir ʼn wye spektrum van toevoegings. Om ʼn berg van ʼn molshoop te maak, of dalk andersom, kan mens op die intensiewe vorm en verkleining staat maak. En wát die rede ook al mag wees dat iemand nié van die FAK-kennis dra nie, is dit van absolute belang om hulle ten minste aan al Koos, Coenie, Amanda Strydom en Laurika Rauch voor te stel.
Verveeld met jou kan ek nie wees nie, want watter ander taal kry dit reg om sy sprekers só te stimuleer sonder woorde soos ‘bietjie’, ‘boeglam’, ‘deurmekaar’, ‘fieterjasies’, ‘flikflooi’, ‘gramadoelas’, ‘ginnegaap’, ‘halsstarrig’, ‘hunker’, ‘kattekwaad’, ‘kabouter’, ‘nou-nou’, ‘piesang’, ‘pantoffel’, ‘sommer’ en ‘tameletjie’?
Dan is dit net in Afrikaans wat jy skouer aan die wiel kan sit of ʼn klap van die windmeul af kan wees; waar aanhouers wen, want probeer is die beste geweer.
Ten spyte van jou jeugdigheid, neem jy soveel gestaltes aan, dat enigeen kan aanklank vind – eenvoudig, poëties, tradisioneel en uitdrukkingsvol.
As gevolg van jou jeugdigheid, voorspel ek groeipyne in die voorsienbare toekoms, maar vir jou eie beswil. In ieder geval, mag ek altyd met jou vertroud bly en mag ek my lewe aan die soektog na jou skatte toewy.
Groete,
ʼn Liriese aanhanger van haar moedertaal
Comments