top of page

Wees gegroet geliefde Juffrou Estie




Dit is baie moeilik om iemand soos me Estie Meyer-Diers vas te vang in woorde. Sy het ʼn warmte, wysheid, omgee en lewenslus uitgestraal wat uniek aan dié uitstekende onderwyser was. Me Meyer-Diers was vir elke Helpie, of dit nou ʼn leerling of onderwyser was, ʼn bron van ongelooflike kennis en goedhartigheid.


Meyer-Diers (52), adjunkhoof en akademiese hoof van Helpmekaar Kollege, is Woensdagoggend 4 Augustus aan Covid-19 verwante komplikasies oorlede. Helpmekaar het Donderdag 5 Augustus 2021, ʼn gedenkdiens vir Juffrou Estie gehou waarin elke leerling en personeellede ʼn roos ontvang het, wat as ʼn simbool van die skool se hartseer, maar ook liefde vir hierdie spesiale onderwyseres gedien het.


Sy het vir almal ʼn voorbeeld gestel van harde werk en het alles waarmee sy besig was met ywer aangepak. Daar was niks wat me Meyers-Diers nie kon doen nie. Me Maria Christelis, jarelange vriendin en kollega, sê: “Wanneer sy met jou gepraat het, het dit gevoel asof jy vir haar die heel belangrikste mens is.” Menige leerlinge en personeellede in die Helpie-familie het hierdie spesiale omgee deur die jare ervaar.


Dít waarvoor me Meyer-Diers gewerk en gestaan het, sal vir altyd deel bly van Helpmekaar en die mense wat daagliks deur haar sonskyn geraak is. Haar hoopvolle uitkyk op die lewe, haar goedgunstigheid en sagte geaardheid was goud werd en sal vir vele ʼn inspirasie bly.

Related Posts

See All
bottom of page