top of page
  • Leah Vivier

Wat doen onnies in hulle vrye tyd?

Me. Tania van Deventer lees graag en werk in die tuin. Sy noem ook dat sy tyd maak vir familie en vriende.


Mnr. Marnus Grobler beskou homself as ʼn foody. “Ek is mal oor kosmaak en braai.” Wanneer hy nie op die krieketveld is nie, slaan hy so dikwels as moontlik tent op: “Ons is lief vir kamp en gaan wanneer ons ʼn tydjie kry.”


Vir me. Marinda Eddie is dit werk, werk, werk en volgens haar spreek Elizabeth Eybers se woorde: “Eggo-deurtrek, al grom die honger wolf van onvoltooide take...” boekdele oor haar besige lewe as Huistaal-onderwyser en lid van ʼn aktiewe huisgesin. “Vrye tyd bestaan nie vir my nie,” sê sy.


Mnr. Eghard Basson ontspan en herlaai só in sy vrye tyd: “Ek stap met my honde-kinders in die parkie.”


As me. Louise Hattingh op vrye voet is, draf sy, net soos wat haar antwoord getuig: “Ek hou daarvan om te gaan draf – dis my uitlaatklep en ‘n ontspanning. Daarmee saam, doen ek padwedlope.” Sy vertel meer: “Ek hou ook daarvan om saam met my gesin te kuier. My manne (my man en twee seuns) hou my altyd op my tone. Ek is baie bevoorreg dat albei my ouers nog leef. Ek gaan kuier elke naweek vir hulle en word bederf met ‘n lekker bord kos.” En niemand kan stry wanneer sy sê: “Daar is niks beter as jou ma se kos nie.”


Mnr. MJ Scholtz koop sy vrye tyd uit op “soveel as moontlik ‘n verskeidenheid dinge.” Dié ‘dinge’ sluit in: “Kitaar speel, teken, lees, kook en tuinmaak.” Dié meneer laat hom ook nie vertel van sy “min” vrye tyd nie, met alles nuut wat hy graag aanpak, soos wat hy stel: “Tog probeer ek ook nuwe aktiwiteite aanpak – ek het onlangs begin kano, rotsklim en probeer nou selfs leer bak (al flop meeste van my brousels).”

Related Posts

See All

Comments


bottom of page