Die waarde van introversie
- Redaksie
- 1 day ago
- 3 min read

In ʼn skool vol gees, geraas en groepfoto’s is dit maklik om te dink dat die hardste stem die sterkste is. Tog lê daar ook ʼn ander soort krag tussen ons – die stille, deurdagte invloed van introverte.
In ʼn TED-Talk, “The Power of Introverts”, bevraagteken Susan Cain, die wêreld se perspektief van introverte. Sy meen dat dit nie noodwendig iemand is wat in sy dop kruip nie, maar iemand wat bloot anders op sosiale stimulasie reageer. Volgens haar beteken stil, nadenkende individue net soveel soos dié in die kollig.
Introverte en ekstroverte se energieverkryging verskil
Waar ekstroverte na hope sosiale stimulasie smag, is introverte op hul stukke in stiller omgewings. Susan meen: “Om ons talent te maksimaliseer, is om onsself in die gepaste stimulasiesone te plaas.” Stilte beteken dus nie swakheid nie, maar eerder ’n aanduiding van ’n ander manier van funksionering.
Die samelewing verhef ekstroverte bo introverte
Susan verduidelik dat daar in die “New Group Think” (’n beginsel dat produktiwiteit van sosiale plekke af kom) geglo word. Sy is van mening dat skool- en werksisteme rondom die ekstrovert se stimulasiebenodighede ontwerp is. Skielik is klaskamertafels in groepe gerangskik en private werkshokkies met oopplan-werksplekke vervang. Volgens kontemporêre sielkunde is die mens ook geneig om die opinies en beginsels van die dominantste persoon in ’n groep te volg. Susan argumenteer egter dat daar “geen korrelasie tussen die beste spreker en die beste idees is nie.” Dit is dikwels die stilste mense wat die spyker op die kop slaan.
Introverte besit unieke sterkpunte
Navorsing deur Adam Grant by die Whorton School toon dat introvertiese leiers dikwels beter resultate as ekstrovertiese leiers behaal. Die rede hiervoor is dat introverte hul groep proaktiewe werkers toelaat om hul eie idees te bevorder. Ekstrovertiese leiers is geneig om situasies oor te neem en werkers te oorweldig. Verskeie introverte het ook belangrike nalatenskappe gelaat. Dr. Seuss was bang om sy lesers te ontmoet. Steve Wozniak het alleen in sy kantoor die eerste Apple rekenaar ontwerp. Jesus het verskeie kere alleen gaan bid en teruggekom met openbarings.
Susan meen dat introversie nie ’n swakheid is nie – dit is slegs ’n ander manier van reageer op sosiale interaksie.
Volgens haar is introverte beter leiers, wat dan ook bevestig word deur moderne studies van leierskap. Hulle is beter daarmee om idees te bevorder en uit te ruil. Sy noem voorbeelde uit die geskiedenis van introverte wat die leisels geneem het: Rosa Parks, Ghandi en selfs Abraham Lincoln. Dit dui daarop dat haar argument nie net ’n mening is nie, maar op gevestigde navorsing steun.
Susan se boodskap is ook relevant in skoolkonteks. Groepsdruk word afgedwing op kinders wat verkies om alleen in stilte te werk. Sy meen dat stilte juis die plek is waar die beste idees ontwikkel word.
Sy glo nie dat groepswerk heeltemal uitgeskakel moet word nie. Komplekse ekonomiese en wetenskaplike kwessies verg die samewerking van talle mense. Meer vryheid aan introverte skep net ’n groter kans vir beter kreatiewe oplossings.
Uiteindelik leer The Power of Introverts ons dat sukses nie net deur luidheid gemeet word nie. Waar ekstoverte in die kollig floreer, vind introverte hul krag in stilte. Deur beide in ag te neem, kan die wêreld ’n omgewing skep waar elke stem gehoor word.
Bronnelys:
Storiehoogtepunte:
Introverte en ekstroverte verkry energie verskillend - introverte floreer in stiller omgewings.
Die samelewing bevoordeel dikwels ekstroverte, maar daar is geen bewys dat die hardste stem die beste idees het nie.
Navorsing (soos dié van Adam Grant) wys dat introverte sterk leiers kan wees omdat hulle ander se idees ruimte gee.
Introversie is nie ’n tekortkoming nie, maar ’n unieke krag wat kreatiwiteit en diep denke bevorder.
Meer oor Susan Cain:
Susan is ’n Amerikaanse skrywer, spreker en voormalige prokureur wat wêreldwyd bekend is vir haar werk oor introversie en die sogenaamde “quiet movement”. Sy het Engels studeer by Princeton Universiteit en daarna ’n regsgraad by Harvard Law School verwerf. Ná sewe jaar as prokureur het sy haar loopbaan verander om te fokus op haar skryfwerk. Haar bekendste boek, Quiet: The Power of Introverts in a World That Can't Stop Talking, het internasionale erkenning gekry en die gesprek oor introverte mense wêreldwyd verander.




Comments