'n Woelige week van Welpie-wees
- Lienke Olivier
- Jan 13
- 2 min read

Die matrieks van 2030 het op die Bult gearriveer! Toegerus met konstruksiehoede, blink oë en leeuemoed het ons dapper Welpies saam begin bou aan die Helpie-huis. Sommer met die instapslag, aan die hand gelei deur ʼn matriek-buddy, het Laurika Rauch elke Welpie genooi: “Kom pak jou tasse uit want jy is veilig hier.”
“Die week was vinnig en vol,” sê Jako Korb (gr. 8). As die splinternuwe Helpies nou terugkyk op hulle Welpie-week, stem hulle saam dat dit die eerste kerfie op hulle “My Mylpale XXX” was.
Mathilde Jordaan (gr. 8) stem saam dat dit die “heel beste week is wat jy nooit weer wil oorhê nie!” Sy het Time-out baie waardeer en niks was vir haar sleg nie.
Om 04:00 Dinsdagoggend is die arme Welpies deur trompette wakker geraas. Hulle het verdwaal en weer die pad gevind, die wurmliedjie gesing, soos ʼn pers pynappel gedans en vir die busse geblaf. Hulle was sirkusnarre en balletdansers en het soos sterre geskitter in die Groentjiekonsert. En so het hierdie dapper Welpies hulle pette, bashers en baadjies deur en deur verdien.
Lara Ainslie (gr. 8) sê dat al is sy nog net een week in die skool, voel sy trots om ‘n Helpie te wees en die skoollied te sing. Kayla Robinson kan nie wag om nog meer memories te maak nie en William Baard is opgewonde oor al sy nuwe vriende.
Welpies, julle is nou volwaardige Helpies. Me. Wilmarié Brand, een van die graad 8-voogde, se mooi boodskap aan elke nuwe graad 8-Helpie: “Jy is genoeg. Loop waar jy moet loop – jy is gemaak om spore te los.”
Vir die res van die skool sê me. Wilmarié namens die graad 8’s: “Helpies, dankie dat julle ons in die eerste week gelei en geleer het en in ons glo. Dat julle vir ons die Helpie-magic en die Helpie-ketting gewys het. Ons bewonder julle en wil graag soos julle wees.”
Welkom graad 8’s! Mag julle weet dat julle nou “by die huis is. Want die fondasie is vas.”




















Comments