Vlag trotse simbool van vryheid
- Wian Wilson
- Sep 26, 2025
- 2 min read

By elke Suid-Afrikaanse rugbywedstryd, op skoolterreine en selfs op ’n pa se broek in Nieu-Seeland tydens die Wêreldbeker, wapper die Suid-Afrikaanse vlag trots soos ’n mantel van ’n superheld.
Met trots waak die vlag oor die reënboognasie en sy ryk erfenis. Die woorde van K’Naan se lied Wavin’ Flag herinner ons daaraan dat, soos die liriek sê, ‘wanneer ek ouer word, sal ek sterker wees; hulle sal my Vryheid noem, soos ’n vlag wat waai.’ Dit is die mooiste manier om die verhaal van ons geliefde seskleurige vlag te vertel.
Die huidige Suid-Afrikaanse vlag, ontwerp deur Frederick Brownell, is amptelik vir die eerste keer op 27 April 1994 gehys, dieselfde dag as die land se eerste demokratiese verkiesing. Sy doel was om ʼn simbool te skep wat ʼn nuwe begin vir Suid-Afrika sou verteenwoordig, waar mense van verskillende agtergronde as een nasie kon saamkom.
Die vlag het ses kleure, naamlik swart, geel, groen, wit, rooi en blou. Alhoewel die kleure geen amptelike betekenis het nie, word hulle dikwels gekoppel aan die land se geskiedenis. Swart, groen en geel kom van die ANC-vlag. Rooi, wit en blou weerspieël die Nederlandse en Britse vlae, wat ʼn groot impak op Suid-Afrika se vorming gehad het. Die “Y”-vorm in die middel verteenwoordig die verskillende paaie en kulture wat bymekaarkom. Dit simboliseer eenheid in diversiteit.
Vandag wapper die vlag nie net in die wind nie, maar ook in die harte van miljoene Suid-Afrikaners.
Ander nasionale simbole:
Nasionale landswapen
Nasionale volkslied (Anthem)
Nasionale blom: Koningsprotea (Protea cynaroides)
Nasionale boom: Ware geelhout (Podocarpus latifolius)
Nasionale voël: Bloukraanvoël (Anthropoides paradisia)
Nasionale vis: Galjoen (Coracinus capensis)
Nasionale dier: Springbok (Antidorcas marsupialis)

Lees verder:
South African Government – National Symbols 👉 https://www.gov.za/about-sa/national-symbols
Wikipedia – National symbols of South Africa 👉 https://en.wikipedia.org/wiki/National_symbols_of_South_Africa
South Africa Online (Afrikaans) 👉 https://southafrica.co.za/af/suid-afrika-nasionale-simbole.html




Comments