In die Wieg gelê: Suid-Afrika se evolusionêre erfenis
- Marli du Preez
- Dec 27, 2025
- 2 min read

Vergeet van Marvel en DC. Die eerste oorsprongstorie speel nie in New York of op Krypton af nie, maar hier tussen die stof en klippe van Suid-Afrika. Die eerste hoofstuk van menslike geskiedenis begin nie met ʼn superheld nie, maar met ʼn klip, ʼn been en ʼn brein wat leer dink.
Die ene Mevrou Ples
Omtrent 2,5 miljoen jaar gelede het ʼn klein, nuuskierige wese deur die warm vlaktes van Sterkfontein gestap. ʼn Australopithecus africanus (beter bekend as Mevrou Ples) is in 1947 deur wetenskaplike Robert Broom ontdek, en tot vandag bly haar fossiel een van die bekendstes in die wêreld. Elke voetspoor wat sy in die modder gelos het, was ʼn tree nader aan ons: aan elke dans, lied en storie wat vandag bestaan.
Toeka se tradisies
In die donker, klam Rising Star-grotte, net wes van die Sterkfontein grotte, het wetenskaplikes in 2013 met nog ʼn ontdekking die wêreld geruk: Homo naledi, ʼn spesie wat sowat 250 000 jaar gelede geleef het. Wat hulle besonders maak, is dat hulle hul dooies doelbewus begrawe het - iets wat wetenskaplikes vroeër gedink het net moderne mense doen. Professor Lee Berger, wat die ontdekking gelei het, het gesê: “Volgens byna enige definisie is Homo naledi nie menslik nie. Maar as die huidige argeologiese rekord die kompleksiteit van Homo sapiens akkuraat weerspieël, beteken dit dat naledi destyds aansienlik meer kompleks as sapiens was.” Lank voor ons skole, kuns of TikTok gehad het, het hierdie wesens al respek, empatie en samewerking getoon. Dit word dikwels gesien as die fondasies van beskawing, wat duisende jare terug al gelê is.
Terug na die bron
As jy jou familieboom ver genoeg terugvolg - of jy nou van Kaapstad, Kanada of Korea kom - eindig jy altyd terug in Afrika. Hier, sowat 200 000 jaar gelede, het die eerste mense, Homo sapiens, verskyn. Suider-Afrika is die plek waar die eerste vonk van menswees regtig ontvlam het.
Die Rotse fluister
Die grond, rotse en fossiele hier deel stil verhale. Hulle vertel hoe hande geleer het om te bou, breine geleer het om te dink, en harte geleer het om te voel. Soos die sterrekundige Carl Sagan gesê het: “Om die hede te verstaan, moet ons eers die verlede leer ken.” Ons erfgoed lê nie net in museums of geskiedenisboeke nie - dit leef in ons. Elke nuwe idee, elke ontdekking, elke daad van omgee en empatie is deel van dieselfde storie wat miljoene jare gelede hier begin het.




Comments