Vier ons literêre erfenis met drie prominente digters
- Johard Venter
- Dec 28, 2025
- 2 min read

Afrikaanse poësie is die onderbou wat wys wie ons as Suid-Afrikaners werklik is. 'n Gedig is nie net woorde nie, maar eerder die onthou, emosies en geskiedenis van ons mense wat van geslag tot geslag oorgedra word. Johard Venter vier die Afrikaanse literêre erfenis deur te kyk na die lewe en werk van drie prominente Afrikaanse digters.
N.P. van Wyk Louw (1906-1970) word gereken as een van ons belangrikste digters. Tydens die N.P. van Wyk Louw-gedenklesing, in 2019 verklaar Karin Cattell-Holden dat “N.P. van Wyk Louw het verreikende vernuwing in die Afrikaanse letterkunde en literêre kritiek teweeggebring, as digter, essayis en kritikus.” N.P. van Wyk Louw het oor ’n wye spektrum van temas gedig – van natuur en landskap, tot liefde, dood, geloof, politiek, kultuur en die Afrikaner se identiteit. Louw het vyf keer die Hertzogprys gewen – meer as enige ander Afrikaanse skrywer.
Volgens die webblad, afrikergeskiedenis.co.za, het C. Louis Leipoldt (1880-1947) ʼn veelvlakkige bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer – hy was ’n digter, dramaturg, romanskrywer, joernalis en kultuurkritikus, en een van die leidende figure van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Van sy bekendste gedigte sluit in: Die soutpan, Op my ou Karoo, Vrede-aand en Die verkleurmannetjie. Leipoldt het die Afrikaanse digkuns vernuwe met ’n sterk liriese toon, natuurbeelde en ’n universele menslikheid. Hy het die Afrikaanse taal se literêre potensiaal help vestig. Hy was ook 'n dokter, maar sy liefde vir die skryfkuns het van hom 'n groot digter gemaak.
In Ingrid Jonker (1933-1965) se biografie word vermeld dat “gedurende die afgelope 50 jaar sy ’n ikoon van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse letterkunde geword het. In so ’n mate, dat haar lewe en veral haar dood soms haar werk en die belangrike bydrae wat sy tot die literêre beweging van die Sestigers gemaak het, oorskadu. Jonker se poësie is vol emosie en gevoel. Sy het geskryf oor liefde, persoonlike pyn en sosiale onreg. Die feit dat oud President, Nelson Mandela, Die Kind, tydens sy inhuldiging aangehaal het, bevestig haar plek as ’n nasionale en internasionale literêre simbool.
Bronne
N.P. van Wyk Louw
Cattell-Holden, K. (2019). N.P. van Wyk Louw as veranderingsagent: ’n Kritiese kompleksiteitslens op sy vroeë prosa. N.P. van Wyk Louw-gedenklesing, Universiteit van Johannesburg, 5 September 2019.
Kannemeyer, J.C. (1983). Gesprekke met N.P. van Wyk Louw. Kaapstad: Tafelberg.
Kannemeyer, J.C. (1999). Die Afrikaanse Literatuur 1652–1987. Kaapstad: Human & Rousseau.
C. Louis Leipoldt
DBNL (Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren). Versamelde Gedigte van C. Louis Leipoldt.
Van Coller, H.P. (red.). (2000). Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Pretoria: Van Schaik.
Wikipedia. C. Louis Leipoldt.
Ingrid Jonker
Viljoen, L. (2013). Ingrid Jonker: Poet under Apartheid. Athens: Ohio University Press.
Mandela, N. (1994). Inaugural Address to Parliament. Kaapstad, 24 Mei 1994. (Aanhaling van Jonker se gedig “Die Kind”).
Penguin Random House South Africa. Ingrid Jonker Biografie.




Comments