top of page
  • Ingrid Holm

Vier soete sestien in styl

Een van die mees opwindende verjaarsdae om te vier is heel moontlik jou sestiende verjaarsdag. Om sestien jaar oud te wees beteken dat jy beslis nou ʼn tiener is. ʼn Mens vier die feit dat jy deur graad agt en nege is en so effens meer volwasse aan die ander kant uitgekom het. Die idee agter sweet sixteen kom seker van die effense nostalgie wat mens ervaar as jy agterkom dat dié ouderdom die hoogtepunt van tienerwees is, met agtien wat om die draai wag. Dit is hoekom dit belangrik is om nie net die dag te vier nie, maar sommer die hele jaar ten volle te geniet.


Baie mense hoor “sweet sixteen” en dink dan dat hulle ’n groot en uitspattige partytjie moet hou. Die werklike pret lê egter gewoonlik in die eenvoudigste goed. ’n Klomp groot idees kan soms onmoontlik wees om uit te voer of ʼn mens kan sukkel om die verwagte effek, waaroor jy gedroom het, te kry. Dit kan lei tot teleurstelling en ja, “it’s your party and you can cry if you want to”, maar dis tog baie lekkerder vir jou en almal rondom jou as jy lag en dit voluit geniet. Dus, kry eerder een uitvoerbare idee en maak dit die hoofgebeurtenis van die aand.

 

Om 'n sestiende verjaarsdag spesiaal te maak, is dit belangrik om elemente in te sluit wat die verjaarsdagpersoon se unieke persoonlikheid en voorkeure weerspieël. Een moontlike idee is byvoorbeeld dat almal volgens ’n sekere tema aantrek. Gewilde temas sluit in “Great Gatsby”, “Euphoria”, “Disco”. Daar was ook al partytjies waar almal soos hul pa’s moes aantrek en elkeen hulle eie kos moes braai! Nog ’n oulike idee is om ’n ou foto of skildery te kies en vir jou vriende elkeen iemand in die foto te gee om na te maak en dan iewers die aand julle weergawe van die foto te neem.


Gebruik versierings om 'n atmosfeer te skep wat die tema komplementeer en 'n feestelike gevoel gee. ʼn Verjaarsdagkoek of nageregte wat die smaak van die verjaarsdagpersoon weerspieël, sal beslis 'n treffer wees.

 

Ongeag die tema en wat die gaste aantrek gaan dit tog oor die mense waarmee jy dit spandeer. Laat almal spesiaal voel.  Dit begin reeds by die uitnodiging. Skep uitnodigings wat die tema en styl van die partytjie weerspieël. Dit kan die eerste indruk wees wat gaste van die viering kry. Dink mooi oor die vermaak – reël vermaak wat almal sal geniet. Gee gaste iets om huis toe te neem as 'n herinnering aan die spesiale dag, soos 'n klein geskenkie of 'n handgemaakte item.


As jy nog die voorreg het dat jou sestiende nog voor jou lê, probeer om dit werklik spesiaal te maak. Onthou om dit vir ander ook te gun, dan kan graad tien waarskynlik een van jou beste hoërskooljare wees.

 

Related Posts

See All

Comments


bottom of page