top of page

Vier die erfenis van Afrikaans deur dit te praat

  • Almay Erasmus
  • Dec 27, 2025
  • 2 min read
Toon jou liefde vir Afrikaans deur dit te praat. Foto: wix.com
Toon jou liefde vir Afrikaans deur dit te praat. Foto: wix.com

Afrikaans is meer as net ’n taal – dit is ’n tuiste van klanke en ’n kleurpalet van mense. Dit verwoord ons geskiedenis, dra ons identiteit en leef in elke gesegde, gedig en glimlag. Ons vier nie net wat Afrikaans was nie, maar wat dit steeds word – ’n taal wat met trots praat, met gevoel skryf en met geloof groei.


Van kombuistaal tot kultuurskat

Afrikaans is in die alledaagse lewe gebore – tussen mense van verskillende agtergronde wat saam begin praat, droom en leef het. Dit is ’n taal wat aan kombuistafels gevorm is, in markte en motors, op skepe en in strate: ’n Taal wat uit mense gegroei het.

Volgens die artikel Geskiedenis van Afrikaans op Wikipedia het Afrikaans ontwikkel uit 17de eeuse Nederlands, met invloede uit Maleis, Khoi, Portugees en ander tale. Hierdie sameloop van tale het ’n unieke erfenis geskep – ’n mengsel van monde wat uiteindelik een stem geword het.


Trotse taal, tydlose tuiste

In die LitNet-artikel Afrikaans: ’n Erfenis om te vier of om te verwerp?” vra Merlyn van der Rheede of Afrikaans vandag nog met trots gedra kan word, of is dit ’n nalatenskap wat sommige mense eerder sou wou vergeet. Die vraag sny diep, maar die antwoord lê nie in die verlede se verdeeldheid nie, eerder in vandag se sameklank van stemme.

Afrikaans is springlewendig en werklik ’n taal om op trots te wees. Dit borrel deur musiek en memes, skitter in stories en skryfwerk en leef in die spontane woorde van jong stemme. Dit is ’n taal wat nie in die verlede vasgevang word nie, maar telkens nuwe vorme vind, nuwe harte bereik en nuwe wêrelde skep – ’n taal wat bly groei en blom saam met sy sprekers.


Praat Afrikaans prontuit

In ’n artikel op Afrikaans100.org skryf prof. Debra Meyer (akademikus): Erfenis is nie wat jy erf nie, maar wat jy nalaat.” En miskien is dit juis ons plig – om Afrikaans nie net te praat nie, maar om dit met trots te laat praat deur ons. Laat elke leerder, musikant en skrywer aanhou om die taal te leef – in sin, in sang, in skoolboeke en gesprekke. Want Afrikaans, die taal met soveel kleur en klank, bly die mooiste monument wat nooit verweer nie.


Is jou trots om Afrikaans te praat?

  • Ja

  • Soms

  • Nie regtig nie


Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page