top of page
  • Abigael Barnard

Vandag Helpmekaar, môre Hollywood

Zonika de Vries (gr. 12) ken die wêreld van ‘ligte, kamera en aksie’. Sy speel in: Dis koue kos, skat, (2016), Kampterrein (2017) die verhaal van Racheltjie De Beer (2019) en die komedie, Ompad (2023). Boonop het sy die voorreg om skouer te skuur met onder andere, Marjike Coetser, Abel Knobel, Zöricke Snyman, Sandra Prinsloo, Louw Venter en Frank Opperman. Sy gesels met Abigael Barnard oor hoe om jou voet in die deur te kry.


De Vries meen dat ervaring baie belangrik is. “Voordat ʼn regisseur jou sal oorweeg kyk hulle na jou ervaring.” Dit is ook ʼn klein industrie en mense praat met mekaar. “Een direkteur praat met ʼn ander direkteur. In die toekoms as hulle byvoorbeeld iemand nodig het dan is jou naam reeds daar buite.” Sy glo ook dat mens nie bang moet wees om ʼn kans te waag nie. “As jy jou kop op iets sit, kan jy dit bereik. Moenie terugstaan as daardie oudisie op jou pad kom nie. Gee nie om hoe moeilik dit is nie, gee nie om hoeveel woorde jy moet leer nie. Gryp elke kans aan. Doen dit!” Buiten talent en ervaring sien sy navorsing as kardinaal in die oudisieproses. “Jy moet goed voorberei vir die karakter waarvoor jy oudisie doen.” Voordat jy by die industrie betrokke raak moet jy ook seker maak jy kry die regte agentskap om jou te verteenwoordig. Moenie bang wees vir hard werk nie. “Ompad is in ʼn baie kort tyd opgeneem. Dit beteken laat aande en vroeë oggende. Ek moes selfs woorde vinnig in die motor leer op pad stel toe.” Deel van die pret is ook dikwels dit wat ná die toneel geskiet is gebeur en De Vries meen dat dit juis dit is wat die lang ure die moeite werd maak. “Tydens ʼn scene in die motor met aktrise Marjike Coetser moes beide akteurs vir ʼn toneel improviseer met ʼn waterbottel sonder om ʼn woord te sê. Toe hulle sê cut bars ons uit van die lag, want water loop uit haar mond en ek is papsop nat. Hoewel baie mense die filmbedryf as intimiderend sien glo de Vries dat dit nie só is nie. “Jy sal jou kans kry”.


Zonika de Vries en Marjike Coetser tydens die verfilming van Ompad. Foto: verskaf.

Related Posts

See All
bottom of page