Van wegspring tot wenstreep: Die kuns van die 100 m-wedloop
- Marieke Wiggett
- Aug 18
- 2 min read

Honderd meter. Tien sekondes. Een wenner. Die naelloop waar slegs die tiende van ’n sekonde ’n wêreld se verskil kan maak. Dis die toets van rou spoed, reaksietyd en krag. Dié ikoniese wedloop het deur die jare legendes na vore gebring en bly een van die opwindendste items by enige atletiekbyeenkoms. Maar wat presies verg ʼn 100m-wedloop?
Wanneer atlete die wedloop hardloop, vind dit in verskillende fases plaas.
Die eerste fase is die reaksiefase waarin die atleet wegspring. In hierdie fase is reaksietyd van kardinale belang – dit kan die atleet se sukses maak of breek. In die 2024 Olimpiese Spele het die Amerikaanse atleet, Noah Lyles, goud gewen met ’n tyd van 9.784 sekondes. As hy slegs 0.006 sekondes stadiger gereageer het, sou sy opponent die wenstreep voor hom gehaal het. Een van Helpmekaar se steratlete, Miandi Breedt (o.16), sê dat die paar sekondes voor die skoot afgaan ’n baie senuweeagtige ervaring is. “Die oomblik voor ek in die blokke sak, sê ek my laaste skietgebed op om myself te kalmeer en net weer te besef dat die Here met my is,” sê sy.
Volgende is die versnellingsfase waar atlete meer regop en met groter treë begin hardloop. Hier is tegniek baie belangrik – as ’n atleet selfs net hul arms nie ver genoeg terugswaai nie, kan dit hul spoed heelwat verlaag. Die bekwame 100m-atleet, Zuan Krige (o.16), se tegniek is om veral te fokus om sy knieë te lig, sy arms so vinnig as moontlik te swaai en om sy bors regop te hou asook vorentoe te gooi sodra hy oor die lyn kom.
Fase drie is waar legendes gemaak word: Die volhoudingsfase. Die eerste een oor die eindstreep is die een wat onthou word.Tot vandag toe hou Usain Bolt die rekord vir die vinnigste 100m-tyd, 9.58 sekondes, wat hy teen ’n spoed van 44 km/h gehardloop het.
Niemand kon hom nog baasraak nie! Indien Leendert Koekemoer (gr. 12), ons eie wêreldklas atleet, teen Usain sou deelneem, sou sy plan wees “om ’n vinniger wegspring as hy te kry omdat dit een van Usain se swakpunte is.”
Blitsig uit die blokke en sterk oor die wenstreep bly die 100m-naelloop die kroonjuweel van atletiek.
Comments