Van terugslag tot triomf: Nathann Knoop vind sy passie
- Almay Erasmus
- Oct 11, 2025
- 2 min read

Tussen die sand en die son staan Nathann Knoop (gr. 12) gereed op die baan – ’n jong man met ʼn vasberadenheid in sy houding en nederigheid in sy glimlag. Hy is onlangs aangewys as ons skool se beste jukskeispeler – ’n eer wat sy harde werk en liefde vir dié sport beklemtoon. Vir Nathann is jukskei egter meer as net ’n sport, dit is deel van wie hy is.
Nathann het in ’n gesin grootgeword wat glo dat sport ’n noodsaaklike deel van lewe is. “Ek het nog altyd sport gedoen,” vertel hy. “Maar ná my brein- en nekoperasie (Chiari-misvorming) het die dokter gesê ek mag nie meer kontaksporte speel nie.” Toe stel sy ma jukskei voor – ’n sport wat sy as kind beoefen het. “Die dokter het gesê ek kan dit probeer en so het my reis begin.”
Wat as ’n toevallige keuse begin het, het vinnig sy passie geword. Nathann onthou sy eerste wedstryd goed: “Ek was onseker, maar uiters opgewonde om nuwe mense te ontmoet en meer te leer.” Vandag beskryf hy jukskei as sy manier om te fokus en te ontspan.
Sy groot oomblik het gekom tydens sy eerste nasionale toernooi, toe hy as SA A-speler aangewys is. Sedertdien het hy deel van Helpmekaar se eerste jukskeispan geword wat in die skoleliga meegeding het. “Ons span het ’n baie goeie verhouding. Ons weet hoe om mekaar te motiveer,” sê hy trots. Hy stel elke week ’n oefenrooster op en werk doelgerig aan sy tegniek. “Ek glo aan klein stappe vorentoe – stadige groei is steeds groei,” voeg hy by.
Nathann glo dat jukskei hom baie oor die lewe geleer het: “Dit het my deursettingsvermoë en nederigheid geleer en dat wat jy uitdeel, is wat jy ontvang.” Buiten die baan speel hy klavier, lees graag en kuier met vriende.
Sy droom is om sy nasionale kleure te verwerf en aan die Namibië-toer deel te neem, maar vir Nathann gaan dit oor meer as prestasie. Dit gaan oor volharding en die vreugde om elke dag beter te word as gister.




Comments