top of page

Van stoute kinders na stille natuur

  • Alexi Davel
  • Jun 10, 2025
  • 2 min read

Updated: Aug 14, 2025


Het julle al ooit gewonder watter ander vakke menneer Hennes sou gee? Baie min sou gedink het dat van alles, sou hy Geografie wil gee. Wat anders weet ons nie oor ons hoof van dissipline nie? Alexi Davel het gaan uitvis oor dit wat agter die man met die ferm stem skuil.


Al is sy amptelike titel, hoof van dissipline, is mnr. Hennes de Wet altyd 'n bok vir sport. Foto: Carla Voogt.
Al is sy amptelike titel, hoof van dissipline, is mnr. Hennes de Wet altyd 'n bok vir sport. Foto: Carla Voogt.

Is Meneer lief vir reis?

Ek love dit! Ek het grootgeword in Namibië, so ons twee woonplekke was 1 000 km uit mekaar uit, so reis en lang paaie is nog altyd in my bloed. Ek hou daarvan om net in my kar te klim en te ry. Ek geniet dit om by nuwe plekkies te stop.


Hoekom reis Meneer? Behalwe vir die Augustus-toer, net in Meneer se persoonlike tyd.

Ek dink dit is ’n vorm van nuuskierigheid. Omdat ek so lief is vir die natuur wil ek dit altyd verken. Ek hou nie baie daarvan om in ’n stad of ’n dorp te wees nie, alhoewel ek hier werk maak ek seker om uit die betonwoud te kom. Wolke, berge en bome is net wonderlik om te sien.


Wat is die een ding wat Meneer dink almal op ’n reis moet neem?

Ek dink die gees om te ontdek. Jy kan al die toerusting hê, maar as jy nie deel wil word van die kultuur, kos en musiek nie, is dit nie dieselfde ervaring nie.


Het Meneer al ooit verdwaal? En hoe het Meneer daar uitgekom?

O, baie! In 2017 het ons met ’n fietsgroep in die Mekong-delta in Vietnam gery. Een van ons seuns het die afdraai gemis en twee uur later het ons agtergekom hy’s nie meer saam met ons nie. Ek het teruggegaan om te gaan soek, maar toe verdwaal ek en in my verdwaalde toestand het ek hom opgespoor. Ons het ’n tydjie gevat, maar uiteindelik het ons by die groep uitgekom.


Wat is Meneer se raad vir iemand wat vir die eerste keer oorsee gaan?

Gaan met ’n gees van verken, maar volg die reëls, Maak seker jou admin is 100% reg. Leer soveel as wat jy kan, die menslike biblioteek is net soveel groter. ’n Mens kom agter as jy reis, hoe goed dit werklik gaan met ons land as jy sien hoe dit gaan met party ander lande. Maar maak nie saak waar ek was nie, die beste plek vir my is hier in Afrika.

 

Daar het ons dit. Wie sou raai meneer Hennes is so lief vir reis en die natuur?


Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page