top of page
Jessica Goosen

Tienertoneel trap vas!

Ligte, kamera, aksie! Helpmekaar Kollege is ‘n skool bekend vir vele prestasies op die gebiede van sport, atletiek en akademie. Wanneer die tekkies egter uitgetrek en die penne neergesit word, skitter Helpmekaar se versteekte stukkie goud meer helder as die son – Helpie-tienertoneel!

Helpmekaar se tienertoneel bied ‘n geleentheid vir opkomende dramaturge en regisseurs om hul debuut te maak en die jong akteurs kry die kans om ‘n stukkie “Hollywood” te ervaar. Sewe van Helpmekaar se tienertonele is hierdie jaar ingeskryf vir die Aardklop PronkPodium kompetisie, wat plaasvind van Julie tot Augustus. In die kompetisie kan opkomende akteurs, regisseurs en dramaturge van regoor Suid-Afrika hul talente vertoon en meeding om die beste tienertoneel te bepaal.


Mnr Eghard Basson, drama onderwyser by Helpmekaar en regisseur van die tienertoneel “Vrot”, sê: “Dit is lekker om die individuele groei van elke leerder te sien. Dit is die goue medalje vir my. Wen is lekker, maar dit is nie alles nie. Toneel en die kunste bly subjektief.”


Die tienertonele van 2022 bevat baie komiese aspekte sowel as onderwerpe wat voortdurend deur die samelewing onder die mat gevee word. Party van die onderwerpe sluit in: feminisme, geloof, geslagsidentiteit asook temas van geestesgesondheid en die effek daarvan op die mens. Alhoewel die produk wat op die verhoog waargeneem word baie vermaaklik is en ‘n gehoor lekker kan laat lag, is dit slegs die finale produk.

Timoné Labuschagne (gr. 11) wat deel is van die stuk, F-woord, vertel: “Die moeite en deeglike beplanning wat in die produksie van ‘n toneel ingaan, word dikwls onderskat. Daar is ‘n hele span wat agter die skerms werk om die finale produk op die planke te bring. Dit sluit die beplanning van die stel sowel as die tegniese aspekte soos ligte en klank, in. Die akteurs doen ure-en-ure se oefening vooraf. Dit vereis baie self-dissipline, aangesien daar gedurende die vakansie geoefen word.” Sy sê dat al die harde werk egter alles die moeite werd is omdat jy die waardering daarvoor kan sien en voel.


Dit is ‘n hoogs aanbevele ervaring om die Helpie-tienertonele te gaan sien. ‘n Ervaring waar baie trane gaan rol, van lag en van huil. Dit sal nog vir lank ‘n stukkie goud van Helpmekaar bly.


Related Posts

See All

תגובות


bottom of page