top of page
  • Chanté du Preez

Tienertoneel jare reeds kultuurhoogtepunt


Tienertoneel is ʼn unieke ervaring. Dit laat leerders nie net toe om hul talente op die planke uit te leef nie, maar bied aan hulle blootstelling aan opbouende kritiek en dit bevorder hul selfvertroue. Helpmekaar Kollege spog sedert hulle eerste ATKV-oorwinning in 1984 met ʼn skatkis propvol tienertoneeltalent. Chanté du Preez gesels met toneeluitskieters oor hulle tienertoneeldae.


Lisa Strydom spog met twee Helpmekaar-tienertonele agter haar naam. Sy was in “Seuntjie” geskryf deur Samuel Ferreira, Helpmekaar Kollege se destydse drama-onderwyser. Dit was volgens Strydom ʼn ongelooflike ervaring. Haar rol was ʼn uitdaging, aangesien sy ʼn ouer ma moes speel en dit nadat sy skaars sestien was. Met slim grimeertaktiek is sy en Arno Greeff, wat die rol as pa vertolk het, verouder. Met uitmuntende toneelspel het die produksie die top 10 gemaak en deelgeneem aan die finaal by Aardklop. Harde werk en laat aande by die skool was op die ou end alles die moeite werd. Tienertoneel het so groot impak op haar gemaak en in 2013 vertolk sy die maan as ʼn karater in ʼn Afrikaanse weergawe van “Romeo en Juliet” met ʼn kinkel, geskryf deur Ferreira. Hierdie stuk was baie kunstig en elegant. Volgens me Strydom was tienertoneel vir haar ʼn ongelooflike ervaring en sy verlang daarna as sy daaraan terugdink. Sy sê: “Dis wonderlik om deel te wees van ʼn span, of jy nou toneelspeel of tegnies is, jy leer baie van jouself en van ander.


Veronica Ramokgoname, tans ʼn prokureur, se belangstelling in toneelspel is in 2013 geprikkel toe sy in die produksie “Rooi” gespeel het, onder leiding van me Linda van Niekerk as regisseur. Vir haar rol in “Rooi” het sy die gesogte toekenning “Mees belowende spel in ʼn rol” gewen. Volgens Ramokgoname het me Van Niekerk ʼn liefde vir toneel by haar gekweek wat vandag nog voortleef. Sy sê as toneelgroep het hulle nog almal ʼn sterk band ten spyte daarvan dat hulle meer as agt jaar laas saam gespeel het. In 2014 speel sy in haar tweede tienertoneel, “Swart Hart”. Dit was vir haar ook ʼn nuwe ervaring om deel te wees van ʼn groter produksiespan.

Hernus Marais, ʼn verkoopbestuurder, was ʼn akteur van formaat en ʼn bekende gesig op die Helpie-verhoog. In 2016 was hy in “Lewe tussen blaaie” onder leiding van me Linda van Niekerk. Dis hier waar die tienertoneelgogga hom gebyt het. In 2017 speel hy in die alombekende “Die mensfabriek” geskryf deur Elisha Zeeman en mnr Eghard Basson as regisseur. Hy was in hierdie produksie die enigste haan onder die henne. “Die mensfabriek” het nie net die gehoor op hulle voete gehad nie, maar die beoordeellaars in die sak. Met hulle uitmuntende spel dring die produksie deur na die ATKV-tienertoneellandsfinaal. Volgens Marais was dit ʼn lekker ervaring om saam met die produksiespan te reis en om op verskillende plekke deel te neem.


Minke Swart was in die bevoorregte posisie om te speel in die produksie “Hilbrow” geskryf deur ʼn oud-Helpie, Tiaan Nortjé. Hulle het fenomenaal gedoen by die FEDA-kompetisie en met verskeie toekennings weggeloop. Vir Swart was tienertoneel die begin van ʼn liefde vir drama en teater. Sy sê: “Dit was vir my ʼn ongelooflike ervaring om te sien hoe ʼn produksie deur tieners vir ʼn gehoor aanmekaar gesit is”.

Die talentvolle Milandie Viljoen het in 2016 haar eerste tree op die verhoog gegee met die produksie “Dit wat was” en verlief geraak op toneelspeel. Mnr Basson was die regisseur en onder sy bekwame aanvoering is die produksie landsfinaal toe. Volgens Viljoen is dit hier waar sy besef het sy wil met haar drama-talent woeker. In 2017 speel sy in die produksie “Die mensfabriek” geskryf deur me Zeeman met mnr Basson as regisseur. Hierdie produksie was ʼn klug gewees en daarom komies en in Viljoen se oë - ʼn goue eier. Daardie jaar wen Viljoen by ATKV-tienertoneel die gesogte toekenning “Mees belowende spel in ʼn rol”. In 2018 speel sy in haar derde tienertoneelstuk vir Helpmekaar Kollege “Siembamba” met mnr Basson as die regisseur. Viljoen sê: “In Helpmekaar Kollege was daar tussen die verskillende tienertonele ʼn gesonde soort kompetisie en dit sal ek vir altyd onthou.

Die borrelende Righard van Jaarsveld was in twee tienertonele tydens sy skoolloopbaan by Helpmekaar Kollege. In 2018 speel hy in “Gesertifiseer”, geskryf deur Elle Chapman. Die produksie was in alle opsigte briljant en dring deur na die ATKV-tienertoneellandsfinaal. In 2019 verruil hy sy toneelskoene en word deel van die tegniese span in “Fiasko” onder leiding van mnr Basson. Volgens Van Jaarsveld het tienertoneel ʼn ongelooflike impak op sy lewe gemaak. Hy studeer tans drama en is ook betrokke by beoordeling van tienertonele en speel self ook nog in tienerproduksies. ”Tienertoneel laat jou anders na die lewe kyk,” sê hy.

Ruan Botha (Gr.12) speel in 2019 in “Fiasko”, onder leiding van mnr Basson, as regisseur. Die produksie vaar besonders goed en dring deur na die ATKV-streeksfinaal. In 2021, ten spyte van die Corona-pandemie, kry Ruan die geleentheid om in “Detensie”, geskryf deur die talentvolle Pierre-André Viviers en mnr Basson as regisseur, te speel. Die produksie vaar besonders goed in die Pronkpodium-kompetisie. Volgens Ruan was hy in ekstase oor die uitslag en baie trots op almal wat betrokke is by Detensie. Hy sê: “Almal het hulle harte uitgespeel, was gefokus en het geweet wat daardie optrede vir hulle beteken.” Hy sê tienertoneel is wel harde werk, maar beslis ook lekker.



2021-tienertonele het behoorlik die verhoog aan die brand gespeel.

Foto's: Carla Klingbiel

Related Posts

See All
bottom of page