top of page
  • Nina Germishuysen

Tennis maak deure oop



Gedurende die laaste dekade het tennis by Helpmekaar Kollege gegroei van krag tot krag. Veral die dogterstennis het opspraak gemaak. Die span het, ten spyte van sterk kompetisie, vir ʼn tydperk van sewe jaar opeenvolgend as liga-wenners of naaswenners uit die stryd getree. Die interhoër was geen uitsondering nie en die meisies het in groot nasionale toernooie soos Amanda Coetzer en Gerrie Berner telkens die kwarteindrondtes behaal.


Dit is dan ook geen wonder dat tennis vir van hierdie kaliber spelers ʼn beurs en ʼn kaartjie Amerika toe verseker het nie. Christine Gouws, wat in 2018 matrikuleer het, is reeds ’n derdejaar-student in Biologie (Genetika) aan die Eastern Illinois-universiteit, waar sy die universiteit verteenwoordig: “Ek hoop om uiteindelik my meestersgraad in Genetika hier te kan klaarmaak,” vertel sy.


Twee van 2020 se matrikulante is binnekort op pad na Amerika toe: Anique Engelbrecht, wat hierdie jaar in Swede gaan oefen het, het ʼn beurs ingepalm om vir Keiser-universiteit in Florida te speel, terwyl sy Biomediese Wetenskappe studeer. Mieke van Deventer is opgewonde oor haar planne om by Angelo State-universiteit in Texas aan te sluit, as deel van die tennisspan. “Ek werk al my hele lewe hiervoor en dit het uiteindelik aangebreek,” sê sy opgewonde. Nog ʼn eerstejaarstudent en oud-Helpie, Jessica Portwig, het besluit om vir Maties te speel, waar sy Aktuariële Wetenskap studeer. Sy hoop om die universiteit later vanjaar in Uganda te verteenwoordig.


Ook die huidige tennismeisies by Helpies, het groot toekomsplanne. Isabella Venter (gr. 12), is reeds in gesprek met universiteite in Kalifornië, Florida en Michigan. ʼn Tennisbeurs sal haar in staat stel om ʼn Internasionale Besigheidsgraad daar te voltooi.

Twee uiters bekwame tennisspelers het as groentjies hierdie jaar by die Helpie-span aangesluit. Runé van Wyk en Amelie van Zyl (gr. 8) is beide in die top-tien O.14-spelers landswyd geplaas. Runé se kop staan net in een rigting: “Ek wil graag in Amerika vir ʼn universiteit gaan tennis speel.” Amelie deel haar sentimente: “Ek hoop om reeds op hoërskool oorsee te gaan speel en dan daarna by ʼn universiteit in Amerika aan te sluit.”

Related Posts

See All
bottom of page