top of page
  • Anika Nel

Sy dirigentstok swaai nog lank

Wat het die volgende groot musiekblyspele alles in gemeen: The Sound of Music; My Fair Lady; The King and I; Fiddler on the Roof; Shaka Zulu; Jock of the Bushveld; Tree Aan; Jesus die Musiekblyspel; South African Taptoo; Huisgenoot Skouspel; Classics is Groot en Disney se The Lion King Live. Dit, en nog vele ander, het almal tot luide applous cresendo onder die ervare dirigente hand van Eddie Clayton.


Eddie Clayton is ‘n Naledi bekroonde musikale regisseur, dirigent, verwerker, komponis en opvoeder. Hy het al met groot orkeste, soos die Johannesburg-, Kaapse- en Gauteng Filharmoniese Orkes, asook die Vrystaatse Simfonieorkes, gewerk om die kuns van musiek maak groot te hou.


Ten spyte van al sy groot erkennings, het Clayton sy passie gevind om die jeug van Suid-Afrika op te lei en sy liefde vir musiek te deel. Hy is nou al vir ongeveer 13 jaar die dirigent van die Johannesburg Jeug Orkes en dirigeer ook vyf ander jeugorkeste in Gauteng.


Anika Nel gesels met Eddie Clayton oor die Johannesburg Jeug Orkes en kry ook raad oor waar om te begin op jou reistog na musiekmaak.


Wanneer het jou musiek loopbaan begin?

Ek het musiek begin maak toe ek vyf jaar oud was. Ek het begin met die klavier en later na ander instrumente oorgeskuif.


Wat is die voordele daarvan om deel te wees van ‘n orkes?

Daar is so baie voordele om deel te wees van ‘n orkes of ensemble. ‘n Mens leer baie vinning om te bladlees en te luister na die musikante om jou. Dis ook lekker om musiek te maak saam met ander mense.


Wat is die Johannesburg Jeug Orkes en wat is julle missie?

Die JYO (Johannesburg Jeug Orkes) is ‘n jong orkes wat meestal bestaan uit skoolkinders en jong studente. Ons missie is om jong musikante op te lei en bloot te stel aan alle verskillende style musiek. Die hoop is om geleenthede te skep vir jong mense om eendag in groot orkeste te kan speel. Dit leer die jong mense ook dissipline en die belangrikheid van saamwerk en spanwerk.


Hoe lank dirigeer jy al die JYO en hoe het die orkes verander onder jou leiding?

Ek is al vir amper 13 jaar die dirigent van die JYO. Ek sal graag wil dink dat ek ‘n positiewe invloed gehad het by die orkes. Ons het aan baie meer konserte deelgeneem as in die verlede.


Wat was vir jou die grootste orkes oomblik saam met die JYO tot hede?

Dit is ‘n moeilike vraag. Daar was so baie ongelooflike oomblikke. Ek kan nie net een oomblik uitsonder nie. Die South Africa Taptoo was egter een, asook toe ons by die Naledi-toekenningsaand gespeel het. Nog een van my gunsteling konserte was die ‘Zip Zap’ Sirkus konsert.


Is daar enige groot projekte waaraan die JYO werk of enige groot geleenthede waaraan die orkes gaan deelneem in die toekoms?

Daar lê later hierdie jaar ‘n baie opwindende samewerkingsgeleentheid met die UP Jeugkoor voor.


Wat sal jou grootste wenk wees aan iemand wat graag ‘n instrument wil leer speel, maar nie weet waar om te begin nie?

My wenk vir die jeug is om “NET TE BEGIN!” Moenie te veel daaroor dink en wag nie. Vra vir raad oor verskillende instrumente en indien moontlik, probeer om verskilende instrumente te leer speel. Die JYO is ‘n goeie beginpunt om raad te vra.


Hoe kan iemand deel word van die Johannesburg Jeug Orkes?

Die beste manier is óf myself óf Wian Joubert, die orkes bestuurder, te kontak. Praat met huidige lede om ons besonderhede te kry of besoek ons webtuiste by www.jyoc.co.za om meer oor die oudisie proses uit te vind.


Hoe kan iemand die JYO ondersteun as hulle nie self deel is van die orkes nie?

Daar is baie maniere om die JYO te ondersteun. Woon ons konserte by, vertel en adverteer die orkes aan almal. Daar is ook altyd ‘n behoefte aan geld om die organisasie aan die gang te hou.


Was daar al enige snaakse oomblikke tydens ‘n optrede wat nie sommer gou vergeet sal word nie?

Daar was al baie! Een van my gunsteling oomblikke was toe ons eerste altviool-speler direk in die mikrofoon in genies het, twee sekondes voordat ons begin speel het. Die geraas oor die mikrofoon was massief! Haar bynaam was vir ‘n lang tyd “Hiccup”.


“The youth truly are the future, and through music we are able to break down walls and build relationships across all boundaries.” ~Eddie Clayton





Related Posts

See All
bottom of page