top of page
  • Elizabeth Kruger

Snoepie te danke aan Tannie Sonje


Tannie Sonje Smith is reeds sedert 1993 deel van die Helpie-familie.

Foto: Verskaf



Helpies se gunstelingdeel van die skooldag word deur die harde gelui van die skoolklok aangekondig. Hulle afwagting vir pouse word aangevuur deur die vooruitsig om die Snoepie te besoek. Tannie Sonje Smith is aan die stuur van sake en ‘n belangrike skakel in die Helpie-ketting.


In 1993 begin Tannie Sonje by Helpmekaar Kollege in ’n administratiewe hoedanigheid. Nadat sy by ontvangs gewerk en vir drie hoofde as assistent opgetree het, word sy die snoepwinkel aangebied. Haar lang dag by die Snoepie begin douvoordag wanneer sy om halfvyf by die skool aankom en met haar werk begin. Sy moet oopsluit, die yskaste pak, die geld in die kasregister balanseer en dit dan na die finansiële kantoor neem. Sindy Moyo, Tannie Sonje se assistent, kom om halfses en die ander assistent, Dinah Mongoma, kom om sesuur. Hulle drie werk saam en maak al die geroosterde broodjies en die ander peuselhappies ‒ alles voor sewe-uur. Ten spyte van al die harde werk, sê Tannie Sonje oor haar werk: “Ek geniet dit baie.”


In Februarie 2018 is ’n stelsel van snoepiekaarte of etebewyse ingestel. Voorheen is duisende rande in kontant ontvang wat ’n veiligheidsrisiko ingehou het. Tans ontvang die snoepwinkel net dertig of sestig rand kontant per dag. Die kinders was aanvanklik ongelukkig oor die nuwe stelsel, maar Tannie Sonje hou vol dat dié besluit groter veiligheid verseker. Om te besluit watter peuselhappie om te koop, is moeilik, aangesien daar iets vir almal is. Die koshuis voorsien die daaglikse ete van die dag wat sorg vir balans tussen gesonde kos en al die lekkernye. Die snoepiekaarte help ouers ook om hulle kinders se eetpatrone dop te hou. Volgens Tannie Sonje wys die snoepiekaarte tekortkominge in die kinders se dieet uit.


Tannie Sonje en haar helpers se harde werk word dus nie altyd deur die leerders waardeer nie, veral nie met die besige lewens van Helpmekaar Kollege se leerders nie: “Hulle weet net as jy die venster oopmaak moet hulle iets koop. Hulle ken nie die storie daaragter nie.” Elke taak by Helpmekaar Kollege en elkeen se bydrae versterk die Bruin Reus op die Bult. Dankbaarheid moet daarvoor betoon word ‒ al is dit net om die helper by die Snoepie in die oë te kyk en dankie te sê.

Related Posts

See All

Commenti


bottom of page