top of page
  • Aldoné Kok

Rugby-reus Juan: kop en skouers bo die res

Juan Oostuyzen (matriek 2020) speel tans rugby in Japan. “Dit het alles begin met my foto saam met Eben Etzebeth in 2019 ná die Rugbywêreldbeker, toe hulle Helpmekaar toe gekom het,” vertel Juan. “Hierdie foto het baie deure vir my oopgemaak. My plan was nog altyd om oorsee te gaan en gelukkig het dit só uitgewerk dat ek hierdie geleentheid in Japan gekry het.”



Volgens Juan is rugby in Japan baie vinniger as in Suid-Afrika. Aangesien dit so warm in Japan is, word daar baie meer klem geplaas op fiksheid. Juan en sy span oefen twee tot drie ure per dag met die fokus grotendeels op krag en kondisionering. Wanneer die rugbyseisoen aanbreek, sal hulle daagliks vir twee sessies van twee tot drie ure elk oefen, waarvan een ‘n veldsessie en een ń gymsessie is.


Juan het op skool vir Helpmekaar Kollege rugby gespeel, maar sy groot passie was eintlik diskus. Atletiek is nogsteeds ‘n groot passie vir hom, maar hy fokus nou eerder op sy rugby en beoefen ongelukkig nie meer atletiek nie.


Japan was vir Juan ‘n kultuurskok, maar hy sê: “’n Mens word vinnig gewoond daaraan. Darem is ek iemand wat van verandering hou, so dit is vir my lekker om nuwe goed te sien en te ervaar.” Juan vertel verder dat sy gunsteling deel van Japan die mense is, asook hoe skoon en veilig dit daar is. Ten spyte van die opwinding van Japan, bly hy ‘n trotse Suid-Afrikaner en hy meen dat hy sy vriende, familie en biltong die meeste mis.


Juan studeer tans Sportsielkunde aan Toyo Universiteit in Saitama, Japan. Sy groot droom is om professionele rugby vir ‘n groot klub in Japan te speel. “Die toekoms is onvoorspelbaar, maar ek probeer my beste om doelgerig te bly en hard te werk om my drome te bereik.”

Related Posts

See All
bottom of page