top of page

Rituele: Van kortbroeke tot krete

  • Alexi Davel
  • 3 days ago
  • 2 min read
Foto: wix.com
Foto: wix.com



Die meeste van ons het ’n bygeloof of ’n klein gewoonte of ritueel wat ons glo geluk bring. Party gebruik altyd dieselfde pen in ’n toets, ander volg ’n roetine voor skool om kalm te bly. Maar watter rituele is daar onder spesifieke groepe?

Ons verslaggewer, Alexi Davel, het gaan uitvind. Het die rugbyspan ’n spesiale kreed wat hulle saam skree voor ’n wedstryd? Sing die toneelgroep ’n liedjie om rustigheid te vind? En die onderwysers — glo hulle sekere gewoontes bring geluk vir hul spanne?

Die antwoorde wys dat bygeloof nie net ’n grappige gewoonte is nie, maar dikwels ’n manier om spanbinding en selfvertroue te versterk.


Die laaste aand van Vlerktog

Toe die gordyn sak ná die finale opvoering van Vlerktog, het almal gehoop dat dit ’n sukses was. Die toneelgroep het op die vloer gelê terwyl sagte musiek deur die vetrek gedryf het — ’n klank wat hulle rustig terug aarde toe gebring het. “In, een-twee-drie… uit, een-twee-drie… wees die karakter,” het die ritme geklink. En om seker te maak dat alles reg verloop, het mnr. Eghard Basson sy bekende kortbroek en tekkies aangetrek. Ná “daardie keer” sou hy nooit weer ’n langbroek waag nie!


Netbalspan se ritueel voor die afgooi

Voor elke wedstryd vorm die eerste span netbalspelers ’n hegte sirkel. Sommige hou vas aan hul tradisie om die hare altyd op dieselfde manier te dra, ander trek hul gunstelingsokkies aan. Met die linker voet binne die kring buig hulle die hoofde en bid saam: “Dankie dat die Here ons die kans gegee het.” Daarna haal hulle diep asem om die dag se spanning agter te laat. Regterhande saam in die middel, klink die uitroep wat almal opnuut laat glo: “Komaan!” En me. Linda Peacock, netbalafrigter? Sy verskyn elke keer met haar geliefde houtjuwele en daardie ikoniese geel sokkies. Só weet sy — en die span — dat hulle reg is vir die wedstryd.


Hokkie-spanne se unieke tradisies

Die eerste span hokkie-meisies begin elke wedstryd met ’n gebed: “Dankie Here vir die voorreg om hier te wees.” Daarna vorm hulle ’n sirkel en skree saam hul bekende slagspreuk: “Helpie, Helpie, Baby!!” — ’n kreet wat hul eenheid en energie bevestig.

Die hokkie-seuns het ook hul eie tradisie. Elke nuwe spanlid kry ’n sogenaamde nommer 4-haarsny as teken dat hy nou regtig deel van die span is. Só word nuwe spelers ingesluit in die groter spangees. En afrigter, mnr. Brian Longbottom? Hy bid elke wedstryddag in sy kar, vraend vir veiligheid en beskerming vir elke speler wat die veld betree.


Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page