Meeste mense ken hom as dr. Tertius Jonker van die KykNet-sepie Binnelanders. Sommige selfs as sanger, motiveringspreker of aanbieder, maar wie is die man agter al hierdie titels? Daniël Basson gesels met Reynardt Hugo om agter die kap van die byl te kom.
Nie net het jy al verskeie rolle vertolk op TV nie, maar jy sing ook. Vertel ons meer van hierdie twee passies van jou.
Om toneel te speel is vir my baie lekker, want dit gee my die geleentheid om verskillende mense te ontmoet. Wanneer jy sing, is dit lekker om die verhoog met ander kunstenaars te deel en hulle agter die verhoog, te leer ken.
Hoe het jou lewe verander vandat jy begin het op Binnelanders?
Daar is ‘n klomp goed wat verander het. Jy het nie meer regtig in die publiek jou privaatheid nie, maar ek het al baie oor die lewe geleer asook oor verhoudings met mense, wat baie belangrik is vir my.
Jou boek, Soldaat, is vol emosie en persoonlike ervaringe. Watter lesse het jy geleer toe jy hierdie boek geskryf het?
Geduld. Iets waarmee ek tot vandag toe nog sukkel. Ek moes dit aanleer en moet dit steeds toepas. Die boek het my ook baie deursettingsvermoë en dissipline geleer.
Wat was jou gunstelingvak en -onnie op hoërskool?
Geskiedenis by Me. Kamper by Hoërskool Zwartkop.
Messi of Ronaldo?
Ek is ‘n Ronaldo-fan, maar ek dink Messi is tog die beste.
Watter raad kan jy vir tieners van vandag gee?
Om verhoudinge te bou in persoon en nie op sosiale media nie. Asook om mense met respek te hanteer, want ons almal bly op dieselfde aarde.
Comentários