Peter McLea: ’n Kleurryke keurspel vol karakter
- Lienke Olivier
- Jun 2, 2025
- 2 min read
Updated: Sep 12, 2025

Agter die dirigeerstokkie van die Helpie-orkes klop ’n sterk ritmiese polsslag – die hart van ons geliefde orkesmeester, Peter McLea. Peter het nie net ’n fyn aanvoeling vir musiek nie, maar ook vir elke musikant.
Kitaar- en klavierklanke het van vroeg af sy lewe ingekleur. Hy het van kleins af kerkliedere op gehoor gespeel en saalopeninge begelei.
Tog het Peter eers laat in sy hoërskooljare, ná ’n toetslopie met teater en regte, op musiek as loopbaan besluit. Vandag is hy ’n meester van verskeie instrumente. “Ek wens ek het tog viool of tjello geleer,” erken hy.
Om ’n musiekinstrument te bemeester verg dissipline, toewyding en vaardigheid. Om in ’n orkes te speel, neem hierdie kwaliteite na ’n volgende vlak. “Om lid van ’n orkes te wees, is om deel te wees van iets groter as jy.”
Peter glo orkesmusiek sal altyd ’n plek hê, selfs in ‘n era van elektroniese musiek en kunsmatige intelligensie. “Ons brei slegs ons verskeidenheid van klanke en tegnieke uit,” meen hy.
Volgens Peter is dit die onvolmaakte en onverwagse wat musiek interessant en opwindend maak. Hy vind vreugde daarin om orkeslede en ander musikale leerders te sien ontwikkel – musikaal, sowel as persoonlik.
En wat van frustrasies? “Afwesighede by orkesoefeninge.” Komaan, Helpies, daag op!
’n Helpie-projek wat vir Peter as hoogtepunt uitstaan is die musiekblyspel, Gesertifiseer, wat in 2018 opgevoer is.
Peter is ook orkesmeester by St. Stithians en verder doen hy gereeld orkestrale verwerkings. Hy het onder meer die orkestrasies gedoen vir Lebo M se konsert met Hans Zimmer in Kaapstad.
Op ’n persoonlike noot geniet hy Ravel se orkestrasie van Mussorgsky se Pictures at an Exhibition, Bernstein, Stravinsky, Rachmaninoff en ander.
En as hy nie met musiek besig is nie? “Doen-dit-self-projekte, kyk ’n fliek en droom.”
Op die vraag watter beroep hy sou kies as hy nie musiek gekies het nie, antwoord Peter: “ ’n Arbiter. ’n Probleemoplosser. ’n Onderhandelaar.” Wel, is dit nie presies wat hy is nie? Dit alles en boonop ’n uitmuntende orkesmeester!
Sy boodskap aan Helpies is kort en kragtig: “Hê begrip eerder as om te oordeel.”
Mag Peter nog lank die Helpie-hartklop in perfekte harmonie dirigeer.




Comments