top of page

Padpredikante vertel ’n erfenisstorie

  • Lienke Olivier
  • Dec 1, 2025
  • 2 min read

In die name van Suid-Afrikaanse dorpe is 'n unieke deel van ons erfenis. Foto: wix.com
In die name van Suid-Afrikaanse dorpe is 'n unieke deel van ons erfenis. Foto: wix.com


Wat is in ’n naam?” het Shakespeare gevra.  Maar as ou Willem Wikkelspies die naamborde, oftewel padpredikante, van Suid-Afrikaanse paaie kon volg, sou hy deeglik besef watter skatte in ’n naam kan skuil. Van Hondeklipbaai oor die Knersvlakte, verby Riemvasmaak en Verkeerdevlei tot anderkant Ogies, lê ’n spoor van kultuurskatte gestrooi oor ons land. En in elke naam lê ons erfenis opgesluit.

“Dit is belangrik om te weet dat plekname ons inheemse geskiedenis weerspieël,” sê kultuurkenner, dr. Elsabé van Zyl.


Pofadder

Anders as wat mense dink, is Pofadder nie na die giftige slang vernoem nie, maar eerder na die Koranna-leier Klaas Poffadder. Klaas Pofadder was ’n veedief wat in die 1800’s in hierdie Noord-Kaapse omgewing bedrywig was en uiteindelik onder ʼn koeëlreën gesterf het. Die dorp se naam was oorspronklik Theronsville, maar is hernoem na Pofadder, ter ere van die mees dramatiese gebeurtenis wat in hierdie klein dorpie plaasgevind het.


Warm soos sy naam

Die Noord-Kaapse dorpie, Hotazel, is deur Engelse mynwerkers gestig. Hulle het gekla dat dit daar “as hot as hell” is. Vandaar is die dorpie Hotazel genoem: ’n Bewys van die warm klimaat en gepaardgaande humor wat “kook”.


Koeëls, kamele en koffie

Suid-Afrika se langste pleknaam is Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskiet, naby Lichtenburg. In een naam word die hele legende vertel. Kakamas in die Noord-Kaap se naam is afgelei van die Khoi-woord “gagamas”, wat “plek van die kamele” beteken.  En in die Vrystaat het reisigers wat langs ’n fontein vir koffie gestop het, hul rusplek sommer Koffiefontein genoem.


Taalglipse en beskrywende woorde

Koekenaap het ontstaan toe ’n Duitse sendeling vanaf die berg vir sy medereisiger gesê het: “Guck hinab.” Dit beteken kyk af. Hul Khoi-gids het verkeerdelik gehoor Koekenaap, ’n goeie naam na sy mening. Ander plekke het meer letterlike name soos Slanghoek, waar mense glo baie slange gesien het; of Wonderboom, vernoem na ’n reusevyeboom wat self wortel geskiet het.


Baps sonder blaps

Selfs Gauteng, bekend vir sy groot stede, het sy eie koddige plekname. Die British Agricultural and Pastoral Society (B.A.P.S.) was aktief in dié omgewing en gevolglik is die dorp Bapsfontein gebore. So het ’n boerevereniging se naam uiteindelik ’n dorp se identiteit geword.


’n Erfenisstorie op padnaamborde

“Ons dorpname is soos ’n lewende museum van ons verlede,” sê erfenisnavorsingshoof, Pieter van der Merwe. Wat is in ʼn naam?  In ’n naam lê ’n skat opgesluit: ʼn Kosbare erfenisstorie.


Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page