ʼn Wyse man het gesê: “As jy ʼn belegging wil maak wat ewig duur, plant mense” en dit is presies wat Helpmekaar Kollege van toeka tot nou doen.
Die laaste honderd jaar het Helpmekaar Kollege uitnemende oud-skoliere opgelewer, van suksesvolle dokters, prokureurs, ouditeurs tot musikante. Komaan, hoe dan anders?
Fourie du Preez sr. (matriek, 1957)
Die bekende oud-rugbyspeler, Fourie du Preez senior, is ʼn oud-Helpie wat met sy talente gewoeker het. Hy het na skool deeltyds B.Com. aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Die rugby-legende het ’n indrukwekkende tagtig wedstryde as agsteman vir die Blou Bulle gespeel. Du Preez was ʼn ouditeur en besigheidsman wat met ʼn skrale begin groot sukses behaal het. Op die ouderdom van vier-en-sestig het hy afgetree en begin reis. Hierdie suksesvolle oud-Helpie het gesê: “Ek wil niks van my lewe verander nie, dit was fantasties!”
Solette Coetsee (matriek, 1989)
Solette Coetsee, is ‘n suksesvolle optometris in George. Sy verwerf haar graad in Optometrie aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Volgens Coetsee het Helpmekaar Kollege haar geleer, om selfstandig te dink, dat jy anders mag wees en dat lojaliteit en kameraadskap belangrik is.
Pierre Retief (matriek, 1989)
Pierre Retief is ʼn prokureur en het na skool sy B.Com.(Regte) aan die Universiteit van Pretoria en sy B.Proc.-graad aan die Universiteit van Johannesburg behaal. Die oud-onderhoofseun het ook ʼn groot liefde vir die buitelewe. Sy liefde vir die bosveld het aanleiding gegee daartoe dat hy by ʼn nie-winsgewende renostergroep, “Rhino Connect”, betrokke geraak het. Dit is danksy Retief dat die Graad 10-Helpies in 2020 meer kon gaan leer het oor renosters en die natuur.
Stefan Olivier (matriek, 2011)
Stefan Olivier, houer van ʼn gesogte Helpmekaar-erewapen, het na skool B.Sc. (IT) aan die Universiteit van Johannesburg gaan studeer. Daarna voltooi hy ook sy honneurs en vandag werk hy by Entelect. As ʼn ambassadeur vir mense met gestremdhede het hy ook nooit dat sy eie gestremdheid hom onder kry nie. Oud-graadvoog, me Lizet Korb, sê sy sal altyd onthou hoe hy haar daagliks geïnspireer het sonder dat hy dit eens geweet het.
Lizandi Schoeman (matriek, 2015)
Me Lizandi Schoeman is tans ʼn sesde jaar chiropraktisyn-student aan die Universiteit van Johannesburg. Schoeman het einde 2020 ʼn beurs ontvang vanaf die “International Federation of Sports Chiropractic (FICS)”. Hierdie toekenning word jaarliks toegeken aan ʼn handjievol studente reg oor die wêreld wat ʼn bydrae gelewer het om sport-chiropraktyk te erken en te ondersteun. Die borrelende oud-onderhoofdogter sê sy geniet haar lewe ten volle en maak die
beste van elke oomblik. Volgens Schoeman het Helpmekaar Kollege haar geleer dat goeie tydsbestuur en harde werk nodig is om jou doelwitte te bereik.
Righard van Jaarsveld (matriek, 2019)
Die lewenslustige Righard van Jaarsveld is tans ʼn dramastudent by die Performing Arts Lifestyle Institute in Pretoria. Die kreatiewe oud-Helpie het nie gras onder sy voete laat groei tydens die Covid-inperking nie. Hy het ʼn aanlyn klerereeks, “Olyfie”, geloods. Volg “Olyfie” op instagram: @olyfie.
Oud-Helpies, Helpmekaar Kollege is trots op julle. Die ure se harde werk wat julle ingesit het, het vrugte afgewerp. Julle geniet die lewe ten volle en benut elke oomblik. Iets wat by Helpmekaar Kollege ingedril is, want werk en speel is die laaste honderd jaar deel van Helpmekaar Kollege.
In memoriam:
Ben Kruger (matriek, 1974)
Ben Kruger as dirigent by Helpmekaar Kollege, 1974.
Ben Kruger het diep spore in die vermaaklikheidwêreld getrap. Hy het sy loopbaan as teaterakteur begin, maar was veral bekend vir sy TV- en filmwerk. Hy was veral bekend vir sy rolle in Skooldae, Sewende Laan, Snake Island, Zero Tolerance en Binnelanders. Kruger is op 64-jarige ouderdom op 26 Mei 2021 oorlede.
Comments