top of page
  • Elzette Labuschagne

Oud-Helpie, Nicola Mackrige ʼn ware prinses

“Lag, vriendskappe en moegheid.” Met hierdie drie woorde beskryf, oud-Helpie, Nicola Mackrige haar reis by die Miss Teen Intercontinental-kompetisie waar sy as eerste prinses gekroon is. Sy het Suid-Afrika verteenwoordig by hierdie kompetisie, gehou in Ecuador, Suid Amerika in Oktober 2022.

Nicola Mackrige gekroon as 1ste prinses. (Foto: Verskaf)

Wat was die verantwoordelikhede, wat jy as eerste prinses gehad het, tydens die kompetisie?

Soos met enige kompetisie, as jy ʼn titel wen of ʼn posisie verwerf, word jy ʼn verteenwoordiger van daardie handelsmerk. My verantwoordelikheid was dus om die handelsmerk so goed as moontlik te verteenwoordig.


Was daar enige prys op die spel?

Toe ek in die Suid-Afrikaanse kompetisie deelgeneem het, was die prys die geleentheid om oorsee te reis na Ecuador en by die oorsese kompetisie was daar meestal net kleiner pryse.


Wat, in jou opinie, is sekere karaktereienskappe wat alle deelnemers moet hê?

Elke deelnemer moet vriendelik wees. Mens spandeer baie dae saam en raak moeg as gevolg van besige skedules en lang ure, so mens gaan definitief moet fokus daarop om nie geïrriteerd te raak met mekaar nie.


Wat was jou motivering om deel te neem aan hierdie kompetisie?

My oorspronklike motivering om vir die Suid Afrikaanse kompetisie in te skryf was dat dit vir my ʼn lekker uitdaging was aangesien Miss Teen Intercontinental een van die grootste kompetisies vir tieners is en dus die uitdaging was wat ek nodig gehad het.


Wie het jou geïnspireer om aan te hou?

Daar is verskeie mense wat my gehelp het om kop bo water te hou, maar ek dink dié met die grootste impak was die mense wat saam my deelgeneem het. Dit was inspirerend om te sien hoe hulle alles gee en dit het my gemotiveer om my alles te gee.


Vertel bietjie van Ecuador?

Ecuador was een van die beste, maar “malste” ervarings van my lewe. Die mense en kultuur is baie anders in vergelyking met Suid-Afrika en hulle praat net Spaans. Ons moes ʼn tolk hê om alles vir ons vertaal. Ek is baie dankbaar dat ek Ecuador en sy kultuur kon beleef.


Wat het deur jou kop gegaan toe jy as eerste prinses aangekondig is?

Daar was opgewondenheid! Dit waarvoor ek al maande lank voor gewerk het, het tot ʼn einde gekom, so daar was ook ʼn sekere mate van hartseer daaraan verbonde, maar die opgewondenheid was beslis oorheersend.


Is daar enige van die vorige jaar se deelnemers waarna jy opkyk?

Al die vorige wenners is almal beslis waardig aan hulle titels, maar ek dink ek kyk die meeste op na dié jaar se wenner, Stefany Calero Molina van Curaçao (‘n eieland in die Karibiese See). Sy dra haarself met soveel elegansie en haar beeldskone hart skyn deur in alles wat sy doen.


Wat is een van die grootste lesse wat jy uit jou deelname aan die Miss Teen Intercontinental-kompetisie geleer het?

Die grootste les wat ek geleer het, is dat alles om ʼn rede gebeur. Niks is toevallig nie. Nes meneer Klaus (skoolhoof van Helpmekaar Kollege) altyd sê: ”Toe val lig.” Ek het geleer dat as iets moet gebeur sal dit gebeur.


Wat sou jou raad wees aan toekomstige deelnemers?

Wees net jouself. Waardeer en geniet elke oomblik, want voor jy sien het ʼn jaar verbygeflits en het jou reis tot ʼn einde gekom.



Related Posts

See All
bottom of page