top of page

Oktober in Johannesburg: Sepies en Jakarandas

  • Sophia Venter
  • Oct 31, 2025
  • 2 min read
In Oktober blom die Jakarandas oral in Johannesburg en Pretoria.
In Oktober blom die Jakarandas oral in Johannesburg en Pretoria.

Oktobermaand bring altyd ’n klomp dinge saam: die somer wat om die draai loer, die laaste akademiese dae wat stadig maar seker soos sandkorrels deur die uurglas glip, en die vooruitsig van vakansie. Maar ten spyte van die mooi weer en lang middae, bly my gunstelingdeel van Oktober die jakarandas wat blom.


Wanneer ek in die oggend bus ry, tydens saalopening oor die stad uitkyk, of as die bloeisels saggies onder my voete pars, voel dit of Johannesburg in ’n pers see verdrink. En elke keer as ek die blomme sien, dink ek aan die beste TV-program van alle tye: Binnelanders.


Nou ja, ek weet dit is ’n bietjie van ’n grap onder sommige Afrikaners. Partykeer is dit moeilik om ernstig te kyk hoe At Koster op sy eie die konflik in die Kongo oplos sonder dat ek dink: “Ag regtig.” Tog bly die reeks ’n integrale deel van die Afrikaanse gemeenskap. Ek wonder soms of die aarde nie dalk ophou spin die dag wat die laaste episode uitgesaai word nie. Daar is ook een of twee ander gunstelinge.


In ons Afrikaanse klas behandel ons die drama, Kaburu deur Deon Opperman – ’n ernstige, diep toneelstuk wat niks met sepies te doen het nie. Hoe geskok was ek toe ek uitvind dat dieselfde Opperman ook Getroud met Rugby geskep het! ’n Program waar karakters name soos “Blitz” dra sonder dat iemand ’n wenkbrou lig. Die storielyn is soms belaglik – mans speel rugby en baklei met hul vrouens – maar dit was steeds ’n pilaar van my kinderjare. Al weet ek nog nie heeltemal wat ’n lynstaan behels nie, kan ek met sekerheid sê: dié sepie is deel van Johannesburg én Afrikaans.


En dan, natuurlik, die legende: 7de Laan. Een van die enigste programme wat dit reggekry het om oor amper niks te gaan, maar tog vir 23 jaar op die lug te bly. As kind het ek by my ouma die advertensies getel totdat die bekende klavierdeuntjie die volgende episode aangekondig het. Die program het Suid-Afrikaners van alle agtergronde verenig: Ons het saamgelag vir Neef Gert, saamgehuil toe Oubaas en Hilda geskei het. Al het die reeks twee jaar terug geëindig, hou dit steeds ’n spesiale plek in ons harte.

Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page