Meisies stuur verwarrende rookseine
- Adam Korb
- Aug 4
- 2 min read

Die moderne meisie kan jy ongelukkig nie saamneem na ’n oorlog toe nie, want van seine verstaan hulle niks nie! ’n Sein is tog ‘n teken om te waarsku of om inligting te deel. So word rook veral gebruik om effektief te kommunikeer: die sender stuur die sein; die ontvanger moet dit “lees” om te weet wat om volgende te doen. Nou, dis net hier waar die knoop vir ons manlike ontvangers lê: die rookseine van die moderne meisie is verwarrend. Om die waarheid te sê: sein se moses; dis net ’n bol rook waardeur ‘n man sy weg moet vind.
Dalk is “bol rook” oordrewe, want die eerste groep meisiemense gee nie eens vir ’n stomme man ʼn vonkie nie… Nada. Nul. Zilts. ʼn Man moet raai-raai-riepa speel. Of die hulp van ʼn professionele gedagteleser inroep. Liewe meisie, hoe moet ek weet jy hou van my wanneer jy my heeltemal ignoreer?
Die volgende meisie-tipe het geen skaamte nie, want sy neem sommer die rol van jagter oor. Sy sein nie, sy skiet! Ja-nee, kyk ʼn man wonder nog, dan weet sy al - namens hom! Noem my outyds, maar dit blus heeltemal my vuurtjie wanneer ʼn vrou die jagwerk doen. ʼn Groot deel van die vreugde van jag, lê tog in die uitdaging wat die bokkie bied.
Voordat die bokkie my bestorm, vat ek saam: Die moderne vrou maak dit al hoe moeiliker vir ons manne om stappe tot ʼn verhouding te neem: Hulle stuur min tot geen seine. Nada. Niks. Of hulle sein oorhaastig; en storm dan – eerste. Liewe seiner, stuur daardie seine versigtig en sekuur sodat ek jou hart kan lees, want dan is daar een wenner in hierdie oorlog: Die liefde!
Comentarios