top of page

Maak die meeste van jou matriekafskeid

  • Daniël Basson
  • May 2
  • 2 min read

Updated: May 6


Matriekafskeidsukses: Die rok, pak en hope foto's.
Matriekafskeidsukses: Die rok, pak en hope foto's.

Matriekafskeid: Seker dié mees opwindende geleentheid van jou skoolloopbaan. Daarom is dit belangrik om fyn te beplan om te verseker dat dit onvergeetlik sal wees.


Die look

Dit is belangrik om ‘n uitrusting te kies wat by jou persoonlikheid pas, maar ook waarmee jy gemaklik is. Alhoewel dit nie kan seermaak om die mode in gedagte te hou nie, moet jy fokus op dit waarvan jy hou. Of dit nou ‘n klassieke pak of ‘n glinsterende rok is, moet dit jy as mens weerspieël. Volgens The Citizen, is dit belangrik om iets te kies wat nie oor ‘n jaar of twee uit die mode sal wees nie.


Bykomstighede

Fyn-gekose bykomstighede kan jou algehele voorkoms uitlig en verhef. Dit is belangrik om te onthou dat jou bykomstighede nie die hoofattraksie is nie. Rakende skoene, is dit belangriker om gemak in ag te neem – veral omdat jy baie die aand gaan dans. News24 beveel aan dat jy eers aan jou skoene en bykomstighede moet dink sodra jou rok of pak gefinaliseer is.


Hare en grimering

Soos in bekende Hollywood-films – naamlik Grease en 10 Things I Hate About You – word grimering, naels en regmaak as een van die hoogtepunte van die aand beskou, veral vir die meisies. Tog, kan dit maklik ‘n stressor word indien dit nie vooruitbeplan word nie. Deesdae is dit die norm om ‘n proeflopie vir hare en grimering te doen, om net weer te bevestig dat die idee van die mooie matriek-meisie en die uitvoering daarvan, ooreenstem.


Finale voorbereidings

Om te verseker dat jy op jou beste voel, moet jy gedurende die paar weke voor die matriekafskeid jou selfsorg prioritiseer. Dit is belangrik om ‘n gesonde roetine vooraf te volg. Verder, is dit belangrik om die vervoer en foto’s te beplan sodat jy werklikwaar nie die aand sal vergeet nie.



Nog wenke:


·         Begin vroeg: Gee jouself genoeg tyd om die perfekte rok of pak te vind en die nodige aanpassings te maak.

·         Hê ‘n begroting: Hou die volgende in gedagte – klere, bykomstighede, vervoer en foto’s.

·         Plan B: Wees reg vir enigiets wat kan gebeur. Hou byvoorbeeld ‘n haakspeld en ekstra parfuum byderhand.

·         Neem ekstra foto’s: Eerder te veel as te min.




Comments


©2021 Helpmekaar. Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page