top of page
  • Karla van der Westhuizen

Karma swaai na hoogtes

Karma Visagie (gr 8) het in die Nasionale kampioenskappe van Artistiese Gimnastiek ‘n algemene 3de plek verower. Sy het Silwer op die Hoë balk behaal en ‘n asemrowende Goud op die Balk. Sy het deelgeneem in die Junior Olimpiese-afdeling.


Karla van der Westhuizen het met Karma gesels om uit te vind wat dit behels om hierdie prestasie te behaal en om te vorder tot verdere hoogtes in hierdie sport.


Hoe lank doen jy al gimnastiek?

Ek het met gimnastiek begin toe ek 6 jaar oud was.


Hoeveel ure oefen jy per week?

Ek oefen vir vier en ‘n half ure elke dag, 6 dae per week. Ek kry net af op ‘n Sondag.


Hoe balanseer jy al die skoolwerk wat ons kry met die lang ure se gimnastiek oefen?

Ek werk vreeslik hard gedurende die klasse en as ek huiswerk het, moet ek dit doen na agtuur in die aand as ek terugkom vanaf gimnastiek.


Jy moes dan al ‘n paar laat aande gehad het! Wat is jou droom? Wat wil jy met hierdie talent van jou bereik?

Ek wil graag eendag my droom uitleef om Olimpiese Spele toe te gaan.


Intussen het jy egter ‘n algemene 3de plek behaal in die onlangse Nasionale kampioenskappe van Artistiese Gimnastiek en boonop weggeloop met ‘n Silwer en ‘n Goud! Hoe voel jy hieroor?

Ek was baie bly en uiters trots op myself dat ek dit gekry het.


Wat is jou gunstelingdeel van gimnastiek?

Ek geniet die feit dat ek my passie kan uitleef. Ek het ook baie goeie vriende by die gimnastiek gemaak en ek geniet dit om toertjies te doen, hoog te swaai en te spring.


Wat is volgens jou die moeilikste deel van gimnastiek?

Die moeilikste is verseker om jouself te druk en altyd jou beste te gee. Ook om nog steeds aan te hou en te oefen - al is jy uitgeput.

Sterkte vir jou pad vorentoe. Miskien sien die Helpies jou oor ‘n paar jaar by die Olympiese Spele.




Related Posts

See All
bottom of page