Juliette maak ’n grap van gravitasie
- Jankia du Toit
- Jan 1
- 2 min read
Agter die jong vrou wat letterlik teen gravitasie werk, skuil ’n verhaal van talent en toewyding. Dit het Jankia du Toit oor lugakrobaat Juliette Leathman (gr. 12) ontdek.
Hoe lank is jy al besig met jou lugakrobatika?
Ek dink ek het aan die einde van 2021 (gr. 8) begin. My hoërskoollewe het baie besig geraak en ek moes ’n breek vat, maar ek sal sê ek het begin om dit op ’n gereelde basis van 2023 (gr.10) af te doen, so al twee jaar.
Jy is ’n veelsydige sportvrou. Aan watter ander sportsoorte neem jy nog deel?
In my hoërskoolloopbaan het ek al avontuursport gedoen, hokkie en basketbal. My belangstellings stop nie by sport nie. Ek het al spraakgilde gedoen en is akademies gefokus. Ek kon nie in graad 8 nee sê nie! Ek wou alles probeer. Ek is vir ’n paar jaar ’n hoofdanser en ’n choreograaf, en vanjaar, ook die Golden Boys se choreograaf. Ek was al tevore in die tienertoneel ’n verhoogbestuurder en danser. Verlede jaar het ek ook ’n musiekblyspel saam met Peter McLea gedoen wat baie pret was. Ek geniet dit ook om elke jaar Kultuuraande-, Fiësta- en Modeparade-danse te doen.
Watter tipe danse het jy al probeer?
Ek het ritmiese gimnastiek, jazz en kontemporêr gedoen, asook skoolproduksiedanse, wat ek meer sal klassifiseer as hip-hop.
Wanneer jy in 2026 gaan studeer, sal jy wil aanhou met jou lugakrobatika?
Ja, definitief! Ek oorweeg op hierdie oomblik óf Stellies óf Tuks, maar sover ek gesien het, het Stellies ’n plek waar ek steeds kan oefen. Ek besluit egter nog.
Is daar baie kompetisies vir lugakrobatika?
Daar is nogal baie kompetisies. Ek het in die verlede heelwat gekompeteer, maar ek het besluit dat ek meer van verhoogoptredes hou. Die verhoog roep my.
Het jy enige ander passies wat nie met lugakrobatika verband hou nie?
Ek het nogal ’n passie vir Engels. Ek hou van toesprake lewer - ek wil defnintief dit eendag in my werk doen. Ek hou van interaksie met mense en kommunikasie. Ek geniet harde werk en fokus.
Een ding is seker Juliette se persoonlikheid is net so magneties soos haar asemrowende vertonings, waar sy met toue deur die lug sweef en kykers betower met haar kuns van lugakrobatika.




Comments