top of page
  • Coenraad Olivier

Honderd vir Hendricus

Anil Kumble, voormalige Indiese krieketkaptein en een van die wêreld se beste draaibalboulers, het gesê die enigste manier om krieket te speel is om in alles 100% te gee. Dit kon netsowel ʼn beskrywing van ons eie Helpie-honderdtalman, Hendricus Meyer, gewees het. Honderd is beslis Hendricus se getal. 

 

Tydens Hendricus se honderdste Helpie-wedstryd, het hy ook ‘n honderdtal aangeteken – ‘n hoogtepunt wat slegs bereik kon word deur 100% in alle areas van toewyding, dissipline en deursettingsvermoë.  Mnr. Klaus sal verseker vir Hendricus 100% gee vir “mental toughness”!

 

Tog is Hendricus nederig dankbaar oor hierdie groot mylpaal.  Hy is vol lof en erkenning vir mnr. Willie van den Berg, sy spanmaats en sy ouers.

 

Hendricus is ‘n veelsydige sportman wat op laerskool aan alle moontlike sportsoorte deelgeneem het, maar krieket is die een wat sy siel gelukkig maak.  Sy eerste krieketwedstryd, waarvan hy nie veel onthou nie, het hy gespeel toe hy 9 jaar oud was.  Helder in sy geheue is egter sy debuut eerstespan Helpie-krieketwedstryd op Cornwall Hill se C-veld teen St. John's Harare.

 

Maar elke sport het sy beserings en krieket is beslis nie net maanskyn en rose nie.  Hendricus verduidelik dat krieket oor val en opstaan gaan:  jy misluk vele kere voordat jy suksesvol is.  Selfs beroemde en hoogaangeskrewe internasionale kolwers is maar drie of vier uit 10 kere suksesvol.  Só hou krieket ‘n mens nederig; en leer dit jou self-dissipline en deursettingsvermoë.

 

Krieket is ‘n geweldig tydrowende sport, wat effektiewe tydsbestuur verg.  Baie ure se oefen deur die week eindig in ‘n hele naweek se wedstryd op die veld.  Hendricus vertel dat hy dikwels laat nagte na oefeninge nog moet werk aan skoolwerk en take.  Sy sosiale lewe is beperk, en dit vat baie dissipline om nie saam met vriende uit te gaan die aand voor ‘n wedstryd nie.  Al is dit soms vir hom moeilik om vir sy vriende te moet nee sê, bly krieket sy prioriteit.  Dit is duidelik dat Hendricus se hart in krieket is en sy toewyding is ‘n voorbeeld vir alle Helpies.

 

Vir Hendricus is die broederskap, kameraadskap en vriendskap van krieket baie kosbaar. Hy vertel dat elke speler sy eie spesiale plek in die span het en dat almal vir mekaar omgee en mekaar respekteer. Die gewoonte om voor en na elke wedstryd as span saam te bid is vir hom baie spesiaal. En natuurlik is daar altyd tyd vir ‘n grappie.  Maar daaroor is hy heel geheimsinnig – wat op ‘n kriekettoer gebeur, bly op ‘n kriekettoer…

 

As hy ‘n ander sport moes kies, sou hy dalk Formule 1 kies, want hy geniet spoed en adrenalien. Maar vra jy hom oor sy toekomsplanne, is Hendricus maar weer terug by sy eerste liefde, krieket. Hy beplan om aan te hou om sy krieketdrome te jaag terwyl hy vir ‘n besigheidsgraad studeer.

 

Hendricus se advies vir jong Helpie-sportsterre is om nooit hulle passie uit die oog te verloor nie.  Geniet die journey en koester elke herinnering.  "Play to play great, don't play not to play poorly.”

 

Related Posts

See All

Comments


bottom of page