top of page

Hoe om Helpmekaar te oorleef

  • Marieke Wiggett
  • Jun 20
  • 2 min read
ree

Meeste van ons het moontlik al dié bekende stellings gehoor:

Wanneer dit sous by die atlektiek – “ Helpies reën nie nat nie!”.

Wanneer dit 10ºC buite is – “Helpies kry nie koud nie!”.

En die groot gunsteling, veral tydens ’n Wiskunde-les wat op ’n Vrydag laaste periode is  – “Helpies word nie moeg nie”.


Hoe op aarde kry die Helpies dit reg?  Wel, hier volg so bietjie van die wenresep om lewe in die Bruin Reus op die Bult effens te vergemaklik.


Jou pet en basher is ’n móét. Soms gebeur dit dat jy jou pet of basher by die huis vergeet. Jy het dalk verslaap of die bus gemis en om dinge erger te maak moet jy aan mnr. Hannriël Coetzee verduidelik hoekom daar geen hoed op jou kop is nie. Om dié situasie te voorkom, is daar ’n goeie oplossing: Maak seker dat daar tussen vriende ’n ekstra pet of basher in een van julle sluitkassies gehou word.


Tradisie, tradisie, tradisie! Tradisie en trots maak elkeen van ons deel van iets groter – die Helpie-familie.  Daar is geen beter gevoel as die afwagting wanneer die Golden Boys se liedjie begin bulder by ’n byeenkoms nie. Ook wanneer almal saam ondersteun by Goueliga-swem of -atletiek, kan mens werklik die Helpie-magic aanvoel. Sonder tradisie sal ons gevoel van samehorigheid verlore gaan en dit net moeiliker raak om ons plek in die familie te vind.


Die matriektrappe is slégs vir matrieks. Oor dié stel trappe is die matrieks uiters besitlik. Hulle het géén genade vir enigiemand anders as die onderwysers wat die trappe gebruik nie. Veral nie ’n “aggie” wat per ongeluk die pad byster geraak het nie. Indien ’n Helpie wel op die trappe betrap word, sal hy of sy voor die hele skool vir die Matrieks se vergifnis moet smeek. Kyk dus mooi watter stel trappe jy gebruik.

Die lewe in Helpmekaar is nie altyd maklik nie, maar is definitief die moeite werd.  Daar is nie iets in die Helpies se water wat hulle anders as die res maak nie. Dis bloot harde werk en die trots van wie ons is.


Nog ’n paar wenke:

·      Moet nooit laat wees vir klas nie – of kry ’n dramatiese storie gereed vir hoekom jy is.

·      Ken jou onderwysers se buie. Vandag is dalk nie die beste dag om vrae te vra nie...

·      Maak vriende met iemand wat altyd ’n ekstra pen gereed het; jy sal dit dalk nodig kry.

·      Moenie die slim kind in die klas se huiswerk afskryf nie. Dit leer jou niks behalwe hoe

om vinnig verskonings te maak nie.

·      Woon altyd sportdae by (al is dit net vir die kosstalletjies).

·      Moenie wag tot die laaste minuut om te begin leer nie, tensy jy adrenalien geniet.

·      Moenie die “ek sal die PowerPoint maak”-persoon wees nie, dis ’n lokval.

·      Geniet dit! Oor ’n paar jaar sal jy wens jy het.

 

 

 

 


Comments


©2021 Helpmekaar. Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page