top of page
Kayla Wolfaardt

Helpies reik uit!

Die Helpie-Fliste gesels met Me. Elena Vorster, wat aan die stuur van die Helpie uitreik-aksie, na Hope School, is. Met die hulp van me. Maryke van der Westhuysen, me. Cindy Palm en me. Lori-Jo Bateman, word daar elke week ʼn uitreik met verskeie gemeenskappe gereël.

 

Hoe en hoekom het juffrou besluit om betrokke te raak by die uitreik-aksies?

Ek is in 2023 as een van die onderwysers by die uitreikspan ingedeel. Dit was seker een van die beste take wat ek kon kry om by betrokke te wees.

 

Watter impak het die uitreike op juffrou se lewe?

Dit speel ’n geweldige verrykende rol in my lewe. Die groei wat ek as mens beleef kan nie in randwaarde omgesit word nie. Dit is ’n ongelooflike dankbare gevoel om deel te wees of te raak van ’n gemeenskap waar daar regtig nood is en om dit vir hulle te kan verlig of beter maak, al is dit net die paar minute wat jy betrokke is. Die opregte en ongekende vreugde van fisies gestremde kinders, hulle onderwysers, terapeute, oppassers en koshuis- en kombuispersoneel wanneer ons ontmoet leer ons om genadig te wees in ’n ongenadige wêreld. Dit leer my dat min, meer is en dat dit genoeg is.

 

Wat is juffrou se gunstelingdeel van die uitreik?

Beslis die groentetuin, terapie-afdeling en die kleuterskool. Die tyd gaan staan

absoluut stil as ek daar kuier! Dit is ongelooflik om te sien hoe leergierig en vol energie hierdie wonderlike, fisies gestremde leerlinge is. Hulle is dankbaar vir alles en die kleuters is beslis baie oulik.

 

Watter uitdagings kom juffrou teë met die reël van die uitreike?

Alles moet ek sê verloop nog sover net glad en ons is dankbaar vir die skool en veral kollegas soos mnr. Wayne Fourie wat ons mooi help met die bespreking van die busse. Ons enigste uitdaging is om dalk leerlinge te moet wegwys a.g.v. getalle en plek in die busse. Ons was al goed benoud daaroor, maar gelukkig met me. Maryke aan die stuur, met die beheer van getalle, verloop dinge vlot!

 

Hoe moedig julle Helpies aan om betrokke te raak by die uitreik?

Daar word weekliks ’n google form op Helpmekaar-24 geplaas wat die leerlinge moet invul om deel te wees van die uitreikgroep. Afkondigings word gereeld gedoen om die Helpies te herinner om betrokke te raak. Die leerders kry kans om aan die verskillende afdelings van die Uitreik-aksie deel te neem. Ons oulike portefeuljes sorg ook dat daar video’s uitgestuur word oor aksies wat gaan plaasvind. Daar is ook nou ’n WA-groep wat dit maklik maak om met die leerders te kommunikeer en hulle aan te moedig om deel te wees van hierdie ongelooflike groep.

 

Het studente spesifieke vaardighede nodig om betrokke te raak?

Nee, glad nie. Net ’n opregte hart en meelewende gesindheid. Harde werk is deel van die taak. Die fantastiese ding is dat jy jouself verryk en sodoende vaardighede aanleer wat jy nie eers geweet het jy oor beskik nie.

 

Hoe verloop 'n middag by die uitreike?

Op ’n Woensdag na skool, storm die Helpies opgewonde na die bus om te vertrek. Onnies staan bont en daar gaan ons om die middag met harte vol liefde, blink en innoverende idees en groot ontvanklikheid aan te pak. Die leerlinge ontmoet in Hope School se skoolsaal en word dan daar deur die skool se personeel wat die middag betrokke is, ontvang. Ons het verskillende projekte en op hierdie stadium is daar verskeie areas wat aandag geniet soos die tuine, die koshuis- en kombuisafdeling, die kleuterskoolprojek en terapie-afdeling, om net ʼn paar te noem. Die Helpies raak verdiep in hulle take en wanneer dit vertrektyd is, sleep die voete maar traag. Dit is te verstane dat ons dan een of twee keer amper ’n Helpie daar agtergelaat het. Dit is met ʼn dankbare hart wat ons terugkeer skool toe.

Related Posts

See All

Comments


bottom of page