top of page

Gooi vir goud!

  • Kayla Wolfaardt
  • Nov 6, 2025
  • 2 min read


Kayla Wolfaardt gesels met Jan-Hendrik Heymans (gr.12) – 'n kranige spiesgooier met groot drome.



Jan-Hendrik Heymans in aksie tydens die Superinterhoër vroeër die jaar. Foto: https://ssschoolsplus.co.za/
Jan-Hendrik Heymans in aksie tydens die Superinterhoër vroeër die jaar. Foto: https://ssschoolsplus.co.za/

Hoe het jy begin met spiesgooi en wat het jou geïnspireer om juis dié item te kies?

Ek het krieket gespeel en is op die grens gesit om die bal in te gooi omdat ek so ver kon gooi. My ma het voorgestel dat ek moet probeer om ‘n spies te gooi, dus het my ma, wat soveel vertroue in my gehad het, my geïnspireer.


Hoe lyk jou oefenroetine?

Gedurende die seisoen doen ek vier keer per week tegniek, een keer per week ‘n tartansessie en twee keer per week ‘n gym-sessie. Buite seisoen gym ek meer en doen ek glad nie tegniek nie.


Hoe balanseer jy jou skoolwerk met jou oefeninge?

Ek probeer om te leer en huiswerk te doen as ek ná oefening by die huis kom. As ek oefen ná ‘n lang skooldag gee dit my net weereens nuwe energie om daardie middag ekstra hard aan my skoolwerk aandag te gee. Vir my is die oefening soos ‘n ruskans wat ek vat om my brein net bietjie te laat ontspan.


Hoe berei jy jouself fisies én geestelik voor vir ’n groot byeenkoms?

Ek sal gewoonlik die dag voor die tyd niks oefen nie en al my toerusting regkry. Ek sal ook video’s kyk van my vorige byeenkomste om te sien wat ek verkeerd gedoen het. Verder sal ek al die punte wat ek moet onthou neerskryf en deur dit werk om te visualiseer wat ek op die dag gaan doen.


Wat was jou grootste prestasie tot dusver?

Ek het al drie goue medaljes by SA’s gewen en was verlede jaar vierde op die wêreldranglys gelys.


Wie is jou rolmodel of inspirasie in spiesgooi?

Jan Zelezny, hy is die huidige wêreldrekordhouer en ook ‘n verskriklike goeie sportman. Hy het die wêreld gewys wat regte sportmanskap is en ook gewys dat as jy val moet jy nie gaan lê nie, jy moet opstaan en net aanhou probeer.


Watter drome of doelwitte het jy vir jou sportloopbaan?

Ek hoop om volgende jaar na die Wêreldkampioenskappe toe te gaan en later miskien na die Olimpiese Spele. Ek hoop om dalk eendag die SA rekord te kan breek. Meer wil ek egter vir mense wys dat as jy nederig is dit jou baie verder in die lewe kan bring en dit baie deure kan oopmaak, nie net in die atletiekbedryf nie. Laastens wil ek ‘n lig wees om ons hemelse Vader uit te beeld en ander nader aan God te bring.











Comments


©2025 Helpmekaar Kollege.

Ontwerp deur MJ Scholtz

bottom of page