Fynbos: ’n Botaniese juweel
- Inge Vermaak
- 3 hours ago
- 2 min read

Die koningsprotea tuur trots met sy pienk kroon oor die heuwels van Kaapstad uit. In die vlaktes groei rooi ericas en geel speldekussings. Daar vlieg ’n oranjeborssuikerbekkie verby. Die koningsprotea is egter nie net Suid-Afrika se nasionale blom nie, dit is ’n simbool van die fynbosbioom en van ons erfenis.
Die fynbosbioom: ’n UNESCO-gebied en nasionale skat
Hoofsaaklik geleë in die suidelike dele van die Wes- en Oos-Kaap is die fynbosbioom deel van die Kaapse blommeryk. Uit die ses blommeryke in die wêreld is die Kaapse blommeryk die kleinste, maar dit bevat die hoogste konsentrasie plantspesies ter wêreld. Dit is meer divers as die rykste tropiese reënwoud in Suid-Amerika, insluitend die Amasone.
As Ralpho Waldo Emerson sê “die aarde lag in blomme”, dan behoort die Kaapse blommeryk te skaterlag. Tagtig persent van dié blommeryk bestaan ook uit die fynbosbioom. Nes die koningsprotea spog met baie, digte blare, is die verskillende fynbosplantspesies vollop. Daar is meer as 8 500 spesies waarvan 6 000 endemies is. Die fynbos is dan ook die rede dat die Kaapse blommeryk in 2004 as ’n UNESCO-wêrelderfenisgebied vereer is.
Plantmedisyne en ander gebruike
Hippocrates, ’n kardinale figuur in die mediese veld, het gesê: “Die natuur self is die beste geneesheer”. Die fynbosbioom se bydrae tot genesing ondersteun sy stelling. Dit is duidelik in onder meer die kankerbos se anti-inflammatoriese eienskappe asook die salvias se pynverligtende kwaliteite. Alhoewel fynbos deur die Khoisan en Europese setlaars as tradisionele plantmedisyne gebruik is, moet ons nie vandag van hulle merkwaardige eienskappe vergeet nie. Fynbos het ook ander huishoudelike gebruike. Die kukumakranka blom word byvoorbeeld gebruik as parfuum veral in linnekaste en waboomblare word gebruik om swart ink te vervaardig.
Veerkragtige fynbos
’n Veldbrand word nie gewoonlik geassosieer met goeie plantegroei nie. Fynbos floreer egter daarop. Veldbrande is noodsaaklik om ou, dooie plante weg te brand om ruimte vir nuwe inwoners te maak. Die chemikalieë in rook help ook om die ontkieming van die saad van vele protea-spesies te stimuleer. Hierdie vuurliewende plante is so taai soos ratels. Die grond in die Kaapse blommeryk is boonop baie onvrugbaar. Sommige spesies groei selfs op uiterste hoogtes. Die sneeuprotea is endemies aan die Cederberge en groei slegs op hoogtes van bo 1 700 meter bo seevlak. Ongelukkig, is ’n groot hoeveelheid fynbosplantspesies baie skaars en op die rand van uitsterwing. Stedelike uitbreiding, indringerspesies soos Australiese akasiabome en selfs klimaatsverandering is die grootste bedreigings. Sowat 1 700 spesies is bedreig.
’n Wêrelderfenisgebied met medisinale plante wat floreer in moeilike omstandighede is ’n nasionale skat. Suid-Afrika se nasionale blom, die koningsprotea, tesame met die fynbosbioom is soos ons mense: Divers en veerkragtig.
Bronne:
-Tradisionele gebruike van Fynbos uit die “The Fynbos Guy” blog deur Dominic Chadbon: https://thefynbosguy.com/traditional-uses-of-fynbos/
-Inligting oor die Kaapse Blommeryk, sowel as Fynbos, en hierdie gebied as ‘n Unesco wêreld-erfenisgebied: https://whc.unesco.org/en/list/1007/
-Verdere feite oor Fynbos en aantal spesies: https://wwf.panda.org/discover/knowledge_hub/where_we_work/fynbos/




Comments