top of page
  • Ingrid Holm

Fiësta staan vir Feesvier!

Sondagmiddag, 24 Oktober, het die Helpie-lug geborrel van opgewondenheid. Saam-saam het die gehoor hul plekke ingeneem langs die swembad terwyl die orkes saggies hul instrumente gestem het. En dan, met ʼn knik van ʼn kop en ʼn swaai van die dirigent se stok daal daar ʼn afwagtende stilte neer. Dis tyd vir die jaarlikse Fiësta!


Die Fiësta is Helpies se spoggeleentheid waartydens musikante, sangers, dansers, akteurs en kunstenaars bymekaarkom om die kultuurjaar op ʼn hoogtepunt af te sluit. Solo-items tot groot orkesnommers laat die gehoor na hul asems snak, en los hul in verwondering.


Vanjaar se Fiësta was werklik een vir die boeke, aangesien dit vir die eerste keer ʼn buitelugkonsert was. Die oop ruimte het bygedra tot die finale effek. Ballerinas en dansers het geswaai en gedraai rondom die standbeeld terwyl jakaranda bloeisels soos confetti tussen hulle neergereën het. Koor- en solo stemme het die aandlug gevul en orkeslede het musiekritmes prettig en passievol uitgevoer.


Christiaan Van Zyl (gr. 12) het die gehoor in trane gehad met sy Edelweiss-item. Die aand het op ʼn hoogtepunt afgesluit met Nirvana se “Smells like teen Spirit” met Lisa Kruger (graad 10) as solis, en begeleiding deur die koor en orkes. Die oomblik was werklik spesiaal; die musiekklanke het saamgesmelt terwyl die sonsondergang se laaste ligstrale elke leerder se gesig verhelder het teen die aankomende donderwolke in die agtergrond. Langs die verhoog het ʼn paar kunsleerders die toneel geskets en so ook hul stempel op die aand afgedruk.

Related Posts

See All
bottom of page