Scarlett Schutte (gr. 9) het in 2014 begin dans en fokus die laaste twee jaar op ballet. Sy erken dat dit soms moeilik is om skool, ʼn sosiale lewe en ure se oefen per week te balanseer. “Tog kom ek uiteindelik altyd by alles uit en werk als uit soos wat dit moet,” sê sy. Scarlett was al in Pole, Duitsland, Engeland, Kroasië en Amerika om aan danskompetisies deel te neem. Hierdie wêreldkampioen vertel dat sy graag na skool wil aangaan met dans en by ʼn oorsese balletgeselskap aansluit. “Ons balletgeselskap hier in Johannesburg is vreeslik goed en ek het al baie produksies as ʼn gaskunstenaar saam met hulle gedoen, maar ek voel tog dat daar baie meer en groter geleenthede oorsee is.”
Almay Erasmus (gr. 9) droom daarvan om eendag in ’n bekende musiekblyspel te dans. Ballet was nog altyd haar droom, alhoewel sy nie regtig ondervinding het nie en aan geen dansskool behoort nie. “Ek dans vir almal wat nie bevoorreg is om te kan dans nie. Ek dans vir my Pappa in die hemel; ek dans vir my Moeder wat my in alles ondersteun. Ek dans van dankbaarheid vir elke nuwe dag by ons lewens gevoeg en ek dans omdat dit my gelukkig maak as ek ander mense kan vermaak en hulle dag kan ophelder. Ek dans bo my omstandighede uit, sommer net so opreg uit my hart uit, want God vul my binneste met die mooiste melodieë.”
Juliette Leathem (gr. 9) vertel dat dans deel is van haar DNS. “Ek kan myself nie ʼn lewe sonder ritme en dans indink nie. Dit help my fokus en hou my gebalanseerd, letterlik en figuurlik,” sê sy. Sy besluit nog of sy dans deel van haar naskoolse loopbaan gaan maak, maar sy oorweeg dit om vir ʼn jaar of twee saam met ʼn internasionale sirkus te toer. “Ek glo vas enige tyd wat ʼn mens ʼn verhoog het en kan optree ʼn eer en ʼn hoogtepunt is.”
Comments