top of page
  • Ingrid Holm

Carine slaag fluit-fluit gr. 8-musiekeksamen


Carine Pretorius (gr. 12) maak al van kleins af haar merk in die musiekwêreld. Sy het eenvoudige kinderliedjies gespeel en op 7-jarige ouderdom, het sy haar eerste blokfluitlesse begin neem. Elf jaar later, kan sy met trots en tevredenheid sê dat sy een van die min hoërskoolleerders is wat graad 8-musiek reeds in die hoërskool voltooi het. Wat behels só ’n musiekloopbaan? Wat het haar laat besluit om deur te druk en graad 8 aan te durf? En wat beplan sy vir die toekoms?



Graad 8 is die laaste musiekeksamen wat mens kan speel. Daarna bly net die Lisensiaat-eksamen oor. ’n Lisensiaat is ’n groen kaart om ’n professionele opvoerder of musiekonderwyser te word. Meeste musiekleerders speel graad 8 eers ná skool. Carine steur haarself egter nie aan hierdie norm nie en het besluit dat sy musiek te veel geniet om sommer net op te hou: “Dit het nooit regtig vir my oor die vak gegaan nie. Dit is vir my ’n baie meer persoonlike ding wat ek nog altyd wou doen. Ek wou net meer en meer en meer.” En met daardie motivering vat sy haar blokfluit en pak die groot eksamen aan.

Om graad 8 in musiek te hê is egter baie meer as om net te spog met ’n sertifikaat. Alhoewel Carine ongelooflik mooi speel en gehore al vele kere met haar foutlose en gemaklike spel stomgeslaan het, weet min mense van die lang ure se werk wat agter die skerms gebeur.


Carine sê dat sy elke dag ten minste ’n uur tot ’n uur en ’n half aan musiekoefening moes spandeer en twee keer per week lesse moes neem. “Dit het bietjie rof gegaan in ’n stadium. Soms het ek my matriekleerwerk bietjie afgeskeep, maar mens werk dit dan weer vir jouself uit.”





Sy sal dit wel vir ander leerders aanbeveel om te probeer. Volgens Carine is dit goed om vir iets te werk en as mens die geleentheid kry vir so ’n groot prestasie, moet mens ’n poging aanwend om dit te laat werk.


Haar raad vir enige leerders wat dalk graad 8 wil speel, is om nie bang te wees nie. “As mens hard genoeg oefen en die werk van jou kant af insit, kan mens op die ou einde terugsit en dit geniet,” sê Carine.


Met graad 8 in blokfluit, lê daar ’n blink toekoms vir Carine voor en het sy vir haarself groot deure in die musiekwêreld oopgemaak. Carine het egter ’n verskeidenheid ander drome wat sy ook wil navolg en gaan daarom nie Musiek studeer nie.

“My gunstelingdeel van musiek is om op te tree en dit met ander mense te deel. Dit is waarom ek daarmee begin het en dit is wat my geïnspireer het om tot by graad 8 aan te hou.”

Related Posts

See All

Comments


bottom of page