Soos wat die verkeer op die hoek van Empire en Jan Smuts verbyry, kan jy dit sien. As jy van voor af na Helpmekaar Kollege kyk, sien jy dit weer; en as jy op Helpmekaar se paviljoene skree, ervaar jy dit – Rugby!
Rugby was nog altyd deel van die hartklop van Helpmekaar en vorm ʼn groot deel van Helpmekaar se trots. Dit is vir elke rugbyseun ʼn eer en inspirasie om te kan uitdraf in ʼn Bruin Trui. Dit is op Helpmekaar se rugbyveld waar kinders leer van harde werk, vasbyt en om te volhard. Hiér is daar ook legendes gebore en is daar reeds vele be-kende oud-Helpie-name in die rugbywêreld. Maar daar word ook elke dag nuwe drome geplant en talente gekweek, om eendag dít wat begin het as ʼn Bruin Trui, na ʼn trotse Groen en Goud-trui te verander.
Onder hierdie ywerige Helpie-rugbyspelers is Diego Cupido, wat hierdie jaar ingesluit is in die SA 0.18-rugbygroep. Cupido is ʼn uitstekende rugby-speler wat elke keer sy beste gee en Helpmekaar se harte trots maak wanneer hy met sy bruin trui op die veld ophardloop. Rugby is in Cupido se bloed en hy vertel dat sy oom, Adriaan Jacobs, wat vir die Springbokke gespeel het, asook sy pa, nog altyd sy inspirasies was. Nie net het rugby vir Diego geleer hoe om ʼn uitdaging aan te pak nie, maar dit het hom ook die geleentheid gegee om oorsee te reis en om baie nuwe mense te ontmoet.
“Wanneer dinge vir my uitdagend is, of dit wat ek beplan het nie uitwerk soos ek gedink het nie, dan sê ek vir myself ‘mind over matter’. Dit het my nog altyd gehelp om die groter prentjie in gedagte te hou en te fokus op dit wat belangrik is.”
Cupido vertel ook dat sy volgende droom is om eers te gaan swot en dan te fokus daarop om die 2023 Wêreldbeker- of Junior Wêreldbeker-span te haal. Deur Diego se harde werk en positiewe gesindheid het hy verseker ʼn (groen en) goue toekoms voor hom!
Op sy beurt leef mnr Hannriel Coetzee homself uit as rugbyspeler en afrigter. Mnr Coetzee speel vir die rugbyklub, Pirates, in Greenside. “[Rugby] was nog altyd deel van my lewe. Ek het as 5-jarige seuntjie begin Valkie-rugby speel en van daar af het ek nooit opgehou nie. Ek was bevoorreg gewees om altyd afrigters te hê wat dit vir my opwindend gemaak het op rugby te speel. Dawie le Roux en Ian Muller was die eerste afrigters wat ek gehad het, wie my baie geleer het en my passie vir die sport versterk het.”
Volgens mnr Coetzee het rugby hom al baie in die lewe gehelp, omdat rugby hom geleer het om nooit op te gee nie. Dit is hoe hy elke uitdaging aanpak. “Harde werk sal talent oorwin, as talent nie hard werk nie”. Nie net het rugby vir mnr Coetzee geleer hoe om vas te byt nie, maar rugby het hom deur moeilike tye in sy lewe gehelp, omdat dit ʼn plek is waar mens van alles kan vergeet en net fokus op een ding.
Mnr Coetzee het as tweedejaarstudent aan die Universiteit van Johannesburg in 2016 by Helpmekaar die 0.15 B-span begin afrig en nou is hy al vier jaar lank by die Bruin Reus op die Bult.
Mnr Coetzee se wens aan jong rugbyspelers, en eintlik enige jongmens, is die volgende: “Weet wat jy wil hê en dink alle moontlikhede deur, want dit gaan nodig wees om opofferings iewers langs die pad te maak. Die belangrikste is om altyd nederig te bly en te besef dat alles net genade is.”
Comments